Bere slaggereed vir Wit Bul-aanslag uit Krugersdorp


Soos dit ‘n kampioenspan betaam het Hoërskool Garsfontein reeds sy plek in die halfeindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling bespreek, voordat drie van sy sleutelspelers verdaag.
Volg al die Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) en Kanaal 216.
Die Bere, steeds onoorwonne in vanjaar se reeks, groet eersdaags vir Luan van den Berg (vaskopstut), Junaide Stuart (regtervleuel) en Junade Pasensie (heelagter), wat aldrie deel uitmaak van die twee SA o.18-spanne wat in Augustus, in die Kaap, met Frankryk, Engeland en Ierland kragte meet.
Die drietal is egter steeds beskikbaar hierdie naweek wanneer Hoërskool Monument op Berepark besoek aflê.
Hoewel die Wit Bulle se seisoen nie op die beste noot afgeskop het nie, het hulle stelselmatig hul voete begin vind. Die teleurstelling van 2024 se stryd met Garsies, toe hulle naelskraaps met 28-31 tuis op die Ras van Rooyen vasgeval het, sal ook nog vlak in die geheue lê van heelparty spelers, vernaam skrumskakel, Evan Bernhardi.
Die Wit Bul-buks, wat vanjaar een van die Krugersdorpers se beste spelers is, was uitmuntend in verlede jaar se kragmeting en sal bitter graag vanjaar die bordjies wil verhang. Berepark is egter nie ‘n maklike plek vir ‘n besoekende span om te wen nie.
Die selfvertroue wat losskakel, Jaydon Viljoen by die onlangse Akademieweek opgedoen het, kan egter ‘n beduidende rol speel. Viljoen was persoonlik verantwoordelik vir ‘n allemintige 58 punte en slegs drie wedstryde, en het die Goue Leeus tot ‘n derde agtereenvolgende titel help lei.
Luan van den Berg, speler van die wedstryd in verlede jaar se kragmeting, sal voor hy na die Kaap vetrek nog ‘n barshou teen die aartsvyand wil speel, terwyl die skrumpet-brigade, bestaande uit Stuart, ook die held verlede jaar met ‘n drie in die doodsnikke, en Drewyn Baron, die besoekers op die punte sal toets.
In Krugersdorp wag nôg ‘n herontmoeting wat in 2024 vir groot opslae gesorg het, wanneer die Blou Tornado van Hoërskool Waterkloof vir Hoërskool Noordheuwel op die “heuwel” tref. Die Klofies se Ronan Bastiaanse en kie sal op hul beurt graag die bordjies wil verhang na ‘n loesing van 53-32 deur die Nories op hul tuisveld in Pretoria.
Bastiaanse is netjies op dreef nadat hy die tweede meeste punte (53), ná Viljoen, by die Akademieweek aangeteken het. Agsteman, Marko Kok, lyk ook na sy ou self met drie uithalervertonings by dieselfde week, terwyl daar ook groot opgewondenheid heers om weer vir haker, Ruan Jacobs, in aksie te sien.
Klofies durf egter ‘n gedugte Blues-span aan. Jeandré Uithaler, ook in die SA o.18-groepe, sal nes die trio van die Garsies ook nog beskikbaar wees. Clinton Agu laat egter ‘n beduidende leemte vir die tuisspan. Agu geniet ‘n blaaskans voordat hy saam met Uithaler na die Kaap vertrek. Die bekwame Wikus Roos staan sy skoene vol in die voorry.
Die spanne:
Garsfontein t. Monument om 14:00 in Pretoria
Garsfontein: 15 Junade Pasensie, 14 Junaide Stuart, 13 Levi Jordaan, 12 Keagan Knighton, 11 Drewyn Baron, 10 Derrick Kuhn, 9 Dian van Aswegen, 8 Lourenz de Jager, 7 Stefan van der Vyver, 6 JP Pieterse, 5 Derik Potgieter, 4 JJ Fourie, 3 Luan van den Berg, 2 Justin Blom, 1 Morné Coetzer.
Monument: 15 Loghan Langeveldt, 14 Jason Joubert, 13 Ruan Genis, 12 Juandré Ehlers, 11 Ewan van der Walt, 10 Jaydon Viljoen, 9 Evan Bernhardi, 8 Ryno van der Westhuizen, 7 Jordan Swanepoel, 6 Caleb Sparks, 5 Dean Hartman, 4 Vincent Roberts, 3 Danie Smith, 2 Regardt Ernst, 1 Ziggy Katiza.
Noordheuwel t. Waterkloof om 13:10 in Krugersdorp:
Noordheuwel: 15 Jeandré Uithaler, 14 Jaydan Steyn, 13 Brandon Pieters, 12 Kieran Reid, 11 Aidan Bester, 10 Pablo Moeketsane, 9 Gillie Diedericks, 8 Armand van Eck, 7 Juandré de Villiers, 6 Andrew Lambert, 5 Jared Coetzer, 4 Robert Hurn, 3 Steph Botha, 2 Wikus Roos, 1 Skuttie Bezuidenhout.
Waterkloof: 15 Tiaan Posthumus, 14 Ross Adams, 13 Meyer Pretorius, 12 Dylan Botha, Jaiden Badenhorst, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Marcel Tsiakos, 8 Marko Kok, 7 Hugo Dercksen, 6 Divan Botha, 5 Dawid Prinsloo, 4 Codi Binneman, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliott.