SuperSport Schools Plus

Bere eindig bo in Beker, maar Jansies laat hulle sweet

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-16 Tags: , , , , , ,

FOTO: Tap Light Edits.

Hoërskool Garsfontein moes verbete terugveg, met 26 punte in die tweede helfte, om nie alleen vir Hoërskool Dr EG Jansen uit te skakel nie, maar ook bo aan die puntelys in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup te eindig.

Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Met ‘n agterstand van 5-12 wat hulle met die omdraaislag in die gesig gestaar het, moes die Bere uithaal om die kookwaterspan van die Jansies in te haal en uiteindelik met 31-24 in Boksburg te seëvier.

Die tuisspan het in sy laaste wedstryd soos ‘n totaal nuwe span gelyk en het veral in die eerste helfte die pap dik aangemaak.

Binnesenter, Nathan Delport, het die Garsie-verdedigers dikwels in die eerste skof laat bontstaan met sy kranige lopies in die middeveld. Dit het ook aan Delport ‘n welverdiende tweekuns aan drieë besorg.

Dit was egter die “pocket-rocket”, Craig Lightfoot, wat die kollig gesteel het. Hy was uitmuntend in die vastelos, en het selfs soos ‘n wafferse senter deurgebars om vanuit sy halfgebied te druk.

Delport en Lightfoot se uitstaande pogings was oplaas nie genoeg om die verdedigende kampioen te stuit nie. Met linkervleuel, Yuvrah George, aan die spits van hul aanslag, het die Bere in die tweede helfte na hoogste versnelling oorgeskakel en vir George het die spasie gebied om briljant af te rond vir ‘n aanskoulike driekuns.

Heelagter, Drewyn Baron, het die kersie op die koek geplaas deur, na nog ‘n puik vertoning, uit gebroke spel die wendrie te druk. Die Garsies kom volgende naweek teen Die Hoërskool Menlopark op hul tuisveld, Berepark, in die halfeindronde te staan.

In Vanderbijlpark het die armdruk tussen Hoërskool Transvalia en Hoërskool Noordheuwel geëindig in ‘n gelykopuitslag van 14-14. Dit was ‘n klipharde kragmeting, met rotsvaste verdediging aan albei kante en nie een van die twee spanne wat bereid was om handdoek in te gooi nie.

Dit was vernaam Valia wat beïndruk het met hul verbete verdediging in die tweede skof. Nie alleen kon haker, Wihandré Kruger, die doellyn oorsteek om sake gelykop te laat trek nie, maar die span Vanderbijl het ook die besoekers van Krugersdorp punteloos gehou na rustyd. Spoedvraat, Aiden Bester, en binnesenter Kieran Reid, het elk ‘n drie vir die besoekers gedruk.

Die Nories verskuif nou hul fokus na volgende naweek se halfeindstryd teen Helpmekaar Kollege in Johannesburg.

Puntemakers: 

Garsfontein 31 (5) – Drieë: Yuvrah George (3), Morné Coetzer, Drewyn Baron. Doelskoppe: Joshua Gouws (3). EG Jansen 24 (12) – Drieë: Nathan Delport (2), Craig Lightfoot, Jeandré Rynders. Doelskoppe: Deshean Pietersen (2).

Transvalia 14 (7) – Drieë: Daniel Kazambo, Wihandré Kruger. Doelskoppe: Jay-dee Maree (2). Noordheuwel 14 (14) – Drieë: Aiden Bester, Kieran Reid. Doelskoppe: Tidi Moeketsane (2).

Ander spanne: 

o.16: Garsfontein 37, EG Jansen 18; Noordheuwel 24, Transvalia 15.

o.15: Garsfontein 24, EG Jansen 14; Noordheuwel 50, Transvalia 21.

o.14: Garsfontein 54, EG Jansen 17; Noordheuwel 54, Transvalia 7.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.