Bere baljaar behoorlik op die oomblik
PRETORIA – Dit ly geen twyfel meer dat Hoërskool Garsfontein uiteindelik op alle silinders vuur nie.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Pretorianers het vir die tweede agtereenvolgende week hul spiere nét so ‘n bietjie ekstra gebult in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling om die besoekende Hoërskool Rustenburg met nóg ‘n reuse telling van 74-12 die loef af te steek.
Daarmee het die Bere nou 164 punte in hul afgelope twee wedstryde opgestapel, terwyl hy slegs 26 afgestaan het.
Saterdag het Garsies se veelsydige kaptein, Luan Olivier, die kollig gesteel. Olivier het die seisoen op oopkantflank begin, maar gedurende die tweede kwartaal sy weg na die middeveld gevind waar hy vir die Rusties dronk gehardloop het.
Hy het deurgaans die eerste linie van verdediging geklop om meters veld te wen en ook aan sy ervare buitesenter, Ruan Enslin, die spasie te bied waarna hy heel seisoen reeds smag.
Die drieëvraat op linkervleuel, Junaide Stuart, het sy vermoë om af te rond ook weer tentoongestel om twee keer agter die Rusties se doellyn te gaan draai.
Die Garsie-agttal, onderleiding van agtsteman, Aiden King, was ook, vir die eerste keer sedert hul kragmeting met Afrikaanse Hoër Seunskool, op hul stukke, en die meedoënlose druk wat hulle toegepas het té veel vir die besoekers. Dit het die grondslag gelê vir die Bere se verstommende vertoning in die tweede helfte.
Hulle het verbasend genoeg teen rustyd met 10-12 agtergeloop, maar voet in die hoek gesit na die omdraaislag om 64 punte in slegs 35 minute aan te teken.
In Alberton het Hoërskool Marais Viljoen se strawwe seisoen nog moeiliker geraak nadat hulle met 34-64 teen Hoërskool Monument vasgeval het. Teen rustyd was die tuisspan nog met slegs 15-22 agter, maar ‘n ewe indrukwekkende vertoning deur die Wit Bulle in die tweede skof het die uiteindelike wegholsege tot gevolg gehad.
Ernesto Oersen, normaalweg linkervleuel, het Saterdag op buitesenter uitgedraf en blitsig sy voete gevind. Oersen se vaart en venynige voetwerk maak van hom ‘n puik speler en hy het daarmee die tuisspan se middeveld deurentyd onder groot druk geplaas.
Steelkantflank, RJ Barnard, gaan ook van krag tot krag sedert hy in die Leeus se Cravenweekspan opgeneem is. Barnard het vir die soveelste keer vanjaar die opposisie laat les opsê met sy kragtige lopies in die middeveld en het uitstekende ondersteuning in die opsig ontvang van agtsteman, Vincent Roberts.
Die tuisspan se kaptein en steelkantflank, Dian Scheepers, was oudergewoonte uitstaande op die vedediging. Sy vermoeë om die spel te lees het ook gelei dat hy agter die besoekers se doellyn kon gaan kuier na hy twee keer onderskep het. Sy agtsteman, Rio Tshimbalanga, en slot, Bjorn Pieterse, het goeie ondersteuning gebied. Albei was uiters fisiek e het moedig probeer om hul span oor die voordeellyn te kry.
Puntemakers:
Garsfontein 74 (10) – Drieë: Aiden King (2), Junaide Stuart (2), Ethan van Wyk, Justin Blom, James Schetler, Thinus Oosthuizen, Luann Olivier, Ruan Enslin, Handre Maree, Wihan Bezuidenhout. Doelskoppe: Junade Pasensie (7). Hoërskool Rustenburg 12 (12) – Drieë: Christiaan van der Bergh (2). Doelskop: Lorenzo Snyers.
Monument 64 (22) – Drieë: Ernesto Oersen (3), Jason Joubert (2), Geofrry French, RJ Barnard, Kealan Milton, Tasliem Guyan, Kiyan Pretorius. Doelskoppe: Cruz La Moer (4), Calum Schooney (3). Marais Viljoen 34 (15) – Drieë: Dian Scheepers (2), Rio Tshimbalanga, Devin Raubenheimer, Bjorn Pieterse, Brandon Els. Doelskoppe: Els (2).
Ander spanne:
o.16: Hoërskool Rustenburg 13, Garsfontein 10; Monument 80, Marais Viljoen 0.
o.15: Garsfontein 57, Hoërskool Rustenburg 7; Monument 63, Marais Viljoen 5.
o.14: Garsfontein 24, Hoërskool Rustenburg 10; Monument 61, Marais Viljoen 14.
- Batsmen carry Marais Viljoen to win over EG Jansen - 2024-09-12
- It’s T20 time as the Westvaal North/South returns - 2024-09-11
- Brandmuller’s bat the difference in Middelburg’s win over Secunda - 2024-09-10