SuperSport Schools Plus

Bekker se Ruvo ryg die driee in

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-07-29

Keer hom!

Dit is waarskynlik die uitroepe wat die meeste langs die rugbyveld uit die teenstanders van Bekker se afrigters en ondersteuners se monde kom wanneer die vleuel Ruvo du Preez aan die bal vat.

Dié linkervleuel benodig slegs drie drieë vir ’n ongelooflike mylpaal van 50 drieë vir sy hoërskool se eerstespan. Du Preez het vanjaar reeds 28 keer ’n draai agter die doellyn gemaak.

Sy span se sukses in die Virseker Beeldtrofee vir Mediumskole sal bepaal of hy die mylpaal bereik.

Bekker kom Saterdag in Middelburg teen die Hoërskool Kanonkop in ’n uitspeelwedstryd in die streekkompetisie te staan. As hy die wedstryd verloor, sal dit Du Preez se laaste kans wees om die drieë in te ryg.

’n Sege sal beteken dat hy in die kwarteindronde teen Brandwag van Benoni nog ’n drieë-kans sal kry.

Du Preez se gevaarlikste wapen is volgens sy afrigter, Johan Wandrag, sy vaartversnelling. Hy het tot dusver al in 45 wedstryde vir sy skoolspan uitgedraf en het nog nooit enige van die Goue Leeus se verteenwoordigende spanne gehaal nie.

Bekker was in 2000 die eerste houers van die Beeldtrofee vir Mediumskole. Destyds het die Leeus se Cravenweek-skrumskakel, Willie Kok, ’n sleutelrol in dié span se aanslag gespeel.

Ben Viljoen van Groblersdal is die verdedigende kam­pioen in die Beeldtrofee vir Mediumskole. Hy sal waarskynlik al sy wedstryde weg van die huis moet wen as hy sy titel wil behou.

Slegs die Blou Bulle is laer as Limpopo op die kompetisie se prioriteitslys.

Ben Viljoen sal Saterdag teen Stoffberg in Brakpan in ’n uitspeelwedstryd te staan kom. Die wenner sal in die kwarteindronde teen Penryn College van Nelspruit sake uitspook.

Buiten Ben Viljoen behoort Vryburg en Fochville ook sterk aanspraakmakers te wees om die trofee as kampioen op 27 Augustus omhoog te hou.

Vryburg kom in die kwarteindronde teen die wenner van die uitspeelwedstryd tussen Erasmus van Bronkhorstspruit en Merensky van Tzaneen te staan.

Fochville het ook direk tot die kwarteindronde deurgedring danksy sy oorwinning van 36-7 oor Bekker in die Leeus-eindstryd. Die wenner van Saterdag se uitspeelwedstryd tussen Die Wilgers en Bergsig Akademie sal Fochville in die volgende ronde pak.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.