Beker-Bere!

PRETORIA – Hoërskool Garsfontein se Bere is ongetwyfeld ‘n span vir die groot oomblik.
Herleef al die Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Nadat hulle hul rieme in ses van hul eerste sewe wedstryde styfgeloop het, het die Bere ‘n totale gedaanteverwisseling in die tweede helfte van die seisoen beleef en dit met ‘n kersie op die koek in die “Kloof” afgesluit.
Die Garsies het Saterdag hul Beker-titel in die SDC Noordvaal Cup suksesvol verdedig deur vir die tuisspan, Hoërskool Waterkloof, met 36-30 te troef. Daarmee het die Bere hul vierde titel in die reeks beklink. Garsfontein is in 2015 en 2016 ook as kampioen gekroon.
Hierdie sege het ook aan hoofafrigter, Johan du Plessis, sy vierde titel besorg sedert hy in 2014 die leisels by die Pretorianers oorgeneem het. Hy skryf egter die sukses aan die seuns toe.
Soos Du Plessis vroeër vandeesweek genoem het, was dit nie slegs die 23-tal op die dag nie, maar die hele groep van 40 spelers wat deur die loop van die jaar alles ingesit het om die Beker terug te bring Berepark toe.
Saterdag se kragmeting was ‘n eindstryd duisend, met albei spanne wat alles in die stryd gewerp het. Uiteindelik was dit waarskynlik die Garsies se ondervinding wat die deurslag gegee het.
Dit was vernaam die Bere se senterpaar wat in dié opsig leiding geneem het. Buitesenter, Ruan Enslin, het gewys hoekom hy reeds voor die eindstryd met sewe drieë gespog het en ook verlede jaar een van die voorste driedrukkers in die reeks was. Enslin se fenomenale vaart het die Klofies oorhoeks gehad en hy het gereeld spasie aan die buitekant gevind vir hom en die o.18 “A”-vleuels, Junaide Stuart en Brooklyn Newman, om te baljaar op die teenaanval.
Binnesenter en kaptein, Luann Olivier, was self dikwels ‘n doring in die vlees van die Blou Tornado. Olivier, oorspronklik ‘n flank, het ook nie geskroom om in die los te woel nie en is as die speler van die wedstryd aangewys.
Die Garsies se skrumdokter, Kevin Buys, sou vir Luan “Proppie” van den Berg, en die res van die Garsie-pak ‘n stewige klop op die skouer gegee het. Van den Berg was die hoeksteen van ‘n uitstaande skrumvertoning deur die Bere, wat die grondslag gelê het vir losskakel, Junade Pasensie, en Kie agterlangs.
Migael Prinsloo, die Klofies se skrumskakel, het ‘n vertoning gelewer wat nog lank deur die tuisspan se ondersteuners onthou sal word. Prinsloo, wat reeds uitstaande teen Hoërskool Monument in die halfeindronde was, het sy spelpeil nog ‘n trappie gelig en was waarskynlik wéér die Klofies se beste speler.
Buitesenter en kaptein, Riwan van Aswegen, en binnesenter, Happy Makate, het hul Kloof-loopbaan op ‘n hoë noot afgesluit. Albei was uitstekend op die aanval, met Makate oudergewoonte ook uitstaande op die verdediging.
Voorlangs sal haker, Ruan Jacobs, tevrede wees met sy vertoning. Hy was weer ‘n doring met die bal in hand en het, soos verlede week, puik ondersteuning ontvang van sy flanke, Divan Botha en Lendrey Janse van Vuuren.
Puntemakers:
Garsfontein 36 (14) – Drieë: Luan van den Berg, Ruan Enslin, Stefan Pretorius, Junaide Stuart, Junade Pasensie, Luann Olivier. Doelskoppe: Handre Maree (3). Waterkloof 30 (20) – Drieë: Riwan van Aswegen, Ruan Jacobs, Strafdrie. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (2). Strafdoel: Bastiaanse (3).
Ander spanne:
o.16
Helpmekaar Kollege 32 (10) – Drieë: Daniel van der Linden (3), Jeandre van der Merwe, Ruben Coetzee, Ethan Lourens. Doelskop: Shaye Lourens. Noordheuwel 6 (6) – Strafdoele: Tidi Moeketsane (2)
o.15
Monument 13 (3) – Drie: Ray-Nathin van Kolver. Doelskop: Jaydon Whitfield. Strafdoel: Whitfield. Noordheuwel 12 (12) – Drieë: Heinrich Smith, Jaydon Piennaar. Doelskop: Ronaldo October.
o.14
Hoerskool Rustenburg 22 (6) – Drie: Reinhardt Enthoven. Doelskop: Ryan Pheiffer. Strafdoele: Pheiffer (5). Monument 10 (0) – Drie: Clayton Snyman. Doelskop: Snyman. Strafdoel: Snyman.

Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




