Barnard voorste lopievraat na Dag 2 van Kovsie Smash

Hoërskool Transvalia se Jeandre Barnard is na die eerste ronde op Dag 2 die voorste lopievraat by vanjaar se Kovsie Smash-toernooi.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Nadat hy gister in die span van Vanderbijlpark se eerste uitstappie ook met ‘n 50-tal gepronk het, was Barnard vir die tweede agtereenvolgende keer Transvalia se held met die kolf.
Sy onoorwonne 66 lopies het van slegs 50 aflewerings gekom en het ‘n totaal van sewe viere ingesluit. Dus spog hy ná slegs twee beurte reeds met 112 lopies en het hy sy span tot ‘n stewige totaal van 130/7 in die toegelate 20 beurte teen Goudveld Hoërskool gehelp.
Dié teiken was té groot vir die span van Welkom om te jaag. Keagan Frankenfeld het hard probeer om sy span in die wedloop te hou met 25 lopies, maar dit was Kriegler Botha en Janco Jacobs, wat elk met syfers van 3/11 gespog het, wat aan Transvalia ‘n oorwinning met 21 lopies besorg het.
Hoërskool Kahalari het aangedui dat hy beslis ‘n buiteperd in vanjaar se toernooi is. Die span van Kuruman het Hoërskool Sentraal ‘n behoorlike krieketles geleer, met Laim Laing wat van voor met die bal gelei het.
Laing se syfers van 3/15 was sy span se beste en hy is netjies bygestaan deur Leander Smit (2/7) en Carl Thole (2/16), om die Bloemfonteiners tot ‘n teleurstellende 83 almal uit te beperk. Kalahari se SW van Heerder, ook ‘n kranige en veelsydige rugbyspeler, het die langsteel ingelê vir ‘n vinnige 23 lopies wat die grondslag gelê het vir ‘n reuse oorwinning met nege-paaltjies.
Tyron Smith het Hoërskool Despatch tot ‘n gemaklike sege van 44 lopies oor Hoërskool Upington geslaan. Smith se beurt was nie noodwendig blitsig nie, maar hy het behendig tussen die paaltjies gehardloop en genoeg swak balle grens toe gejaag om uiteindelik met 59 lopies van 52 aflewerings te spog.
Luke Julyan het daarna puik bystand met die bal gebied deur drie Upington kolwers terug pawiljoen toe te stuur en sodoende vir die teenstanders uit die Noord-Kaap tot slegs 95/8 te beperk.
Hoërskool Pietersburg se Ignus Ferreira het gemaai onder die Jim Fouché-kolwers in sy span se reuse oorwinning met nege paaltjies, en het blitsig vier vinnige paaltjies vir net 20 lopies laat spat.
Aanvangsbouler, Cilliers van der Merwe, het sy deel bygedra met drie paaltjies om die Bloemfonteiners vir slegs 53 uit te boender, ‘n teiken wat die Pietie-kolwers met gemak in die 11de beurt kon verbysteek om hul kanse op kwalifisering aansienlik te vergroot.
Beknopte telkaarte:
Transvalia 130/7 (Jeandre Barnard 66*; Ruan Dreyer 2/20, Kamohelo Moloke 2/33); Goudveld 109 (Keagan Frankenfeld 25, Bul Rademeyer 22; Kriegler Botha 3/11, Janco Jacobs 3/11, HJ Hayes 2/11). Transvalia wen met 21 lopies.
Sentraal 83 (Daniel Pienaar 14; Liam Laing 3/15, Leander Smit 2/7, Carl Thole 2/16); Kalahari 86/2 (SW van Heerden 23*, Leander Smit 20*; Erik Prinsloo 1/19). Kalahari wen met nege paaltjies.
Despatch 139/5 (Tyron Smith 59; Aiden Lukumbi 2/10); Hoërskool Upington 95/8 (Ruan Esterhuizen 29; Luke Julyan 3/22). Despatch wen met 44 lopies.
Jim Fouché 52 (Ignus Ferreira 4/20, Celliers van der Merwe 3/11); Hoërskool Pietersburg 53/1 (Dian Gouws 23*, Stephan Swanepoel 20*; Jareth Scott 1/18). Hoërskool Pietersburg wen met nege paaltjies.