SuperSport Schools Plus

Arende sal VKB-titel teen die Luiperds verdedig

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-06-19 Tags:

VKBDie Vrystaat Arende sal Vrydag teen die Luiperds sy titel as kampioen van die VKB-week vir stedelike spanne probeer verdedig. Die Arende is verlede jaar as die eerste stedelike kampioen van die VKB-week in Reitz gekroon. 

Die Arende het hul plek in die eindstryd met ‘n naelskraapse sege oor die Westelike Provinsie se Noordelike Voorstede XV-tal (WPNS) met 31-29 bespreek. Die WPNS is die eerste span vanuit die Wes-Kaap wat aan die VKB-week deelneem. 

Die span kan in die toekoms ‘n gulde geleentheid aan spelers uit die noordelike voorstede van Kaapstad gee om blootstelling aan interprovinsiale rugby te kry. Skole soos Stellenberg, Durbanville, Bellville en Brackenfell se seuns kan die span in een van die sterkstes jaarliks op die VKB-week transformeer. 

Die Arende se buitesenter, Zachary Bester, het twee keer die besoekers uit Kaapstad se doellyn oorgesteek. Bester was uistaande en het met sy breekslae in die middelveld hoofbrekens aan die WPNS XV-tal besorg.

Die WPNS XV-tal sal Vrydag teen die Griffons kragte meet. Die gewese Bok-losvoorspeler Deon Stegmann het op sy dag ook vir die Arende op die VKB-week uitgedraf. 

Die Luiperds moes ook sweet om die Griffons met 36-31 te klop om hulle plek in die eindstryd te bespreek. Die wenspan se linkervleuel, Pieter Wagner, het twee van sy span se vyf drieë afgerond. Die eindstryd beloof om ‘n klipharde tweestryd tussen die twee spanne te wees. Die slot Rico Cilliers het met sy woelige spel in die vastelos beïndruk en is met die toekenning as Speler van die Wedstryd beloon.

Die Limpopo Blou Bulle het OP Platteland met 42-38 in ‘n opwindende wedstryd getroef. Die wenspan se skrumskakel, Renier van der Heever, was uitstaande vir die wenspan met sy skerp breekslae langs die skrums en losskrums. 

Puntemakers: 

Vrystaat Arende 31 (14) – Drieë: Zachery Bester (2), Francois Boonzaaier, Nico du Buisson. Doelskoppe: George van Huysteen (4). Strafdoel: Van Huysteen. WPNS XV 29 (12) – Drieë: JP Luise, Ryan McMaster, Chean Truter, Hanno Jordaan, Shirnol Willemse. Doelskoppe: Patrick Kotze, Van Biljon.

Luiperds 36 (19) – Drieë: Pieter Wagner (2), Rico Cilliers, Fabrizzio Viljoen, Christiaan Botha. Doelskoppe: Dian Venter (2), Zander Bezuidenhout (2). Strafdoel: Bezuidenhout. Griffons 31 (26) – Drieë: Jaco Theron (2), Aldino Erasmus, Thabe Miambo, Juan Cilliers. Doelskoppe: Theron (3). 

Limpopo Blou Bulle 42 (19) – Drieë: Zian van der Heever, Janko Lotter, Boon Montjane, Lucian Simpson, Jandré Eksteen, JP van Staden. Doelskoppe: WC Kriel (3). Strafdoel: Kriel. Skepdoel: Kriel. OP Platteland 38 (31) – Drieë: Ryan Kotze, Quine van Staden, Raymond Tora, Liyema Bobela, Dan-Leigh Taks, Conrad van Vuuren. Doelskoppe: Geor Hoffman (4). 

Barbarians 25 (10) – Drieë: Evert Olivier, Ruben Jansen, Chris Briel, Hannes van Eeden, Caden Schutte. Diggers 15 (10) – Drieë: Amu Baloyi, Starion Fenn. Doelskop: Dillon Willemse. Strafdoel: Willemse.

Lees Nog oor die VKB-week: 

Groot tellings op die eerste dag van die VKB-week

[powr-comments id=”901e3f8b_1560930128626″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.