Agu druk 2 keer in Blues se skoksege oor Bere


Hoërskool Noordheuwel het Saterdagmiddag tuis vir die tweede keer vanjaar ‘n wendroogte verbreek teen een van sy aartsvyande in die Noordvaal Cup.
Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Nadat die Blues vroeër in die seisoen vir die eerste keer in 24 jaar oor Hoërskool Monument in die Krugersdorp-derby kon koning kraai, het die ligbloues Saterdag vir die eerste keer, sedert 2011, met 28-22 oor Hoërskool Garsfontein baas gespeel.
Die twee spanne het reeds vroeër in 2025 in ‘n opwarmingswedstryd ontmoet, met die Garsies wat toe met 34-28 die botoon gevoer het. Saterdag se nederlaag teen die Blues was ook die besoekers van die Jakarandastad se eerste nederlaag in vanjaar se reeks.
Die Nories het in albei hul vorige oorwinnings oor die Bere, 14 jaar gelede, naelskraaps met onderskeidelik 12-10 en 19-15 die pyp gerook. Vanjaar was dit dieselfde storie, met die tuisspan se verbete terugvegpoging wat nog vir jare onthou sal word.
Die Bere was, soos verwag, soos ‘n wafferse naelloper uit die blokke, met haker, Justin Blom, en senter, Levi Jordaan, wat deurgebars het om binne ‘n oogwink aan die besoekers ‘n voorsprong van 17-0 te besorg. Jordaan se sentermaat, Keagan Knighton, het kort daarna ook die doellyn oorgesteek om die rustydtelling op 22-7 te staan te bring.
Na die omdraaislag het haker, Clinton Agu, die bul by die horings gepak om momentum in die tuisspan se guns te swaai met ‘n tweekuns aan drieë. Agu se tweede het behoorlik die vuur onder die Blues aangesteek, met hul durf en fisiekheid wat die deurslag gegee het.
Vleuel, Jayden Steyn, wat deurgaans uitgeblink het op sowel die aanval as verdediging, het uiteindelik briljant afgerond om die sege met ses punte te beklink.
In Johannesburg het Helpmekaar Kollege sy reeks van rondomtalie-wedstryde met ‘n sege van 38-22 oor Hoërskool Rustenburg afgesluit.
Die Helpies se losskakel, Wian Storm, gaan steeds van krag tot krag as generaal van die Johannesburgers se agterlyn. Sy uitstekende visie en aanvoeling het aan homself, sowel as binnesenter, Ethan Lourens, ‘n tweekuns aan drieë besorg.
Hoewel die Helpies teen rustyd reeds met 31-10 voorgeloop het, het die Rusties geweier om handdoek in te gooi en met kenmerkende fisieke, harde rugby tog daarin geslaag om die tuisspan effens te ontsenu. Vernaam die twee voorrymanne, Xander Stickling en Jayden Mienie, het woelig vertoon en is elk met ‘n drie beloon.
Puntemakers:
Noordheuwel 28 (7) – Drieë: Clinton Agu (2), Armand van Eck, Jayden Steyn. Doelskoppe: Jeandré Uithaler (4). Garsfontein 22 (22) – Drieë: Justin Blom, Levi Jordaan, Keagan Knighton. Doelskoppe: Joshua Gouws (2). Strafdoel: Gouws.
Helpmekaar Kollege 38 (31) – Drieë: Ethan Lourens (2), Wian Storm (2), Gustav Grotius, Dylan Engelbrecht. Doelskoppe: Wian Storm (4). Hoërskool Rustenburg 22 (10) – Drieë: Jon-ré Jefthas, Henré Robinson, Xander Stickling, Jayden Mienie. Doelskop: Ayden Willemse.
Ander spanne:
o.16: Noordheuwel 31, Garsfontein 7; Helpmekaar Kollege 31, Hoërskool Rustenburg 24.
o.15: Garsfontein 21; Noordheuwel 15; Helpmekaar Kollege 31, Hoërskool Rustenburg 15.
o.14: Noordheuwel 11, Garsfontein 7; Hoërskool Rustenburg 24, Helpmekaar Kollege 19.

Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




