Agt spanne vir Tuks-kwarteindstryde bekend
Die Hoërskool Monument van Krugersdorp moes Saterdag veel harder vir sy sege van 43-16 teen Hoërskool Kempton Park in die Tuks-reeks werk as wat die telbord aandui.
Monnas het rustyd ’n skrale voorsprong van 10-9 geniet. Dit was te danke aan ’n drie net voor rustyd deur sy kaptein en haker, PJ Botha. Kempies se losskakel, Lionel Uckermann, het met drie strafdoele in die eerste helfte geslaag waarvan twee pogings van meer as 50 meter van die pale was om Kempies op ’n stadium met 9-5 te laat voorloop.
Kempies het as span hope durf gewys en Monnas se groot baldraers gestuit. Die oormag het net te veel in die tweede helfte geraak en Kempies kon nie meer al die gate toestop nie. Vir Kempies het sy flank Marco Ueckermann en buitesenter, Cobus Hattingh, veral goed vertoon.
Monnas se kaptein, Botha, agtsteman, Cristen van Niekerk, stut Nathan McBeth en slot Ruan Vermaak het Monnas se aanslag gelei. Monnas kom Saterdag in Rustenburg teen Hoërskool Rustenburg in die kwarteindstryd te staan.
Monnas se afrigter, Hans Coetzee, sal tevrede met die sege wees, maar nie met sy span se disipline tydens die wedstryd nie. Die flank Juandré Judeel kan bly wees dat hy nie ’n kaart gekry het na hy na ’n speler van Kempies geskop het nie. Vermaak het ook toegelaat dat sy frustrasies oorkook en was kort-kort onnodig met die skeidsregter in gesprek.
Kempies kom in die ander kwarteindstryd in Rustenburg teen die Hoërskool Nelspruit se Rhinos te staan.
Verlede jaar was dit ’n opskudding toe Eldoraigne op sy tuisveld in Pretoria vir HTS Middelburg se Rooi Bulle met 22-14 in die Tuks-reeks verslaan het. Saterdag het die span van die Jakarandastad weer met ’n sege van 28-24 gewys dat dit dalk nie ’n vloekskoot was nie.
Eldos se skrumskakel, Christiaan Claassen, was aan die spits van die sege vorodat hy weens ’n besering die veld moes verlaat. Die voorryman Morné Smit het voorlangs die Rooi Bulle se gal gewerk.
Die verdedigende kampioen, EG Jansen van Boksburg, se losskakel, Ruben Beytell, het sy tweede driekuns in vanjaar se reeks in sy span se oortuigende oorwinning van 45-3 oor Menlopark behaal. Hy het ook in sy span se kragmeting teen Marais Viljoen ’n driekuns aan drieë behaal.
Jansies sal teen HTS Middelburg op laasgenoemde se tuisveld in die kwarteindronde van die reeks te staan kom. In die ander kwarteindstryd op Middelburg sal Garsfontein en Eldoraigne mekaar die stryd aansê.
Garsies het Marais Viljoen van Alberton met 71-0 op Berepark in Pretoria afgeransel. Die wenspan het teen lemoentyd reeds ’n stewige voorsprong van 42-0 opgebou.
Veral die span se heelagter, Abner van Reenen, het met sy aanvallende spel te veel vrae aan Marais Viljoen se verdediging gevra. Die agtsteman, Luke Fortuin, en losskakel, Austin Davids, het ook beduidende rolle in die sege vertolk.
Rustenburg het vanjaar sterk op die voorgrond getree na hy verlede jaar nie ’n goeie seisoen beleef het nie. Die span se losskakel, Gerhard Fourie, het ’n blink vertoning in sy sege van 41-17 oor Florida gelewer.
Puntemakers:
Monument 43 (10) – Drieë: Kevin le Roux, PJ Botha, Juandré Judeel, MJ Pelser, Nathan McBeth, Arno van der Westhuizen, Cristen van Niekerk. Doelskoppe: JP van Rensburg (4). Kempton Park 16 (9) – Drie: Francois Jordaan. Doelskop: Francois Erasmus. Strafdoele: Lionel Ueckermann (3).
EG Jansen 45 – Drieë: Ruben Beytell (3), André Meyer, Ginter Smuts, Henry Pike, Lee-Irvin Andries. Doelskoppe: Smuts (5). Menlopark 3 – Strafdoel: Werner Nel.
Eldoraigne 28 – Drieë: Christiaan Claassen, De Wet Pretorius, Reinhardt Heymans, Xander du Toit. Doelskoppe: Erik Calitz (4). HTS Middelburg 24 – Drieë: Japie Kleinhans, Waldo Conradie, JC Pretorius. Doelskoppe: Riekert Barnard (3). Strafdoel: Barnard.
Garsfontein 71 (42) – Drieë: Hendré Eloff (2), Austin Davids (2), Ryno Pieterse (2), Abner van Reenen, Luke Fortuin, Carl du Plessis, Lincoln Daniels, Shaun Williams, Stefan Smith. Doelskoppe: Van Reenen (2), Davids. Marais Viljoen 0.
Hoërskool Nelspruit 45 – Drieë: Riaz Adebayo (2), Marnus Kruger, Stefan van der Broek, Dewald Maritz, Nico de Kock. Doelskoppe: Francois Esselen (4), Van der Broek (2). Strafdoel: Van der Broek. Hoërkool Pietersburg 27 – Drieë: F de Beer (2), T du Plessis. Doelskoppe: Morné Venter (3). Strafdoele: Venter (2).
Hoërskool Rustenburg 41 – Drieë: Gerhard Fourie, Christopher Kemm, Ethan Ballot, Schalk van der Merwe, Tielman Breedt, Rassie Breedt. Doelskoppe: Fourie (4). Strafdoel: Fourie. Florida 17 – Drieë: Faqeer Paulse, enrico Luit. Doelskoppe: Bradwin Johnson (2). Strafdoel: Johnson..
Hoërskool Klerksdorp 20 – Drieë: Franco Badenhorst (2), Bennie de Beer. Doelskop: Michael Venter. Strafdoel: Venter. Centurion 17 – Drieë: Tino van Eeden, Heinrich Mentz. Doelskopp: Paul Roos (2). Strafdoel: Roos.
Ander spanne:
o.16: Eldoraigne 33, HTS Middelburg 10; Menlopark 31, EG Jansen 13; Nelspruit 43, Pietersburg 10; Garsfontein 55, Marais Viljoen 0; Centurion 43, Klerksdorp 3; Monument 38, Kempton Park 13; Florida 24, Rustenburg 15.
o.15: HTS Middelburg 17, Eldoraigne 7; Menlopark 27, EG Jansen 17; Pietersburg 12, Nelspruit 11; Garsfontein 49, Marais Viljoen 14; Klerksdorp 41, Centurion 7; Monument 21, Kempton Park 10; Florida 29, Rustenburg 5.
o.14: Eldoraigne 15, HTS Middelburg 0; Menlopark 15, EG Jansen 14; Nelspruit 41, Pietersburg 0; Garsfontein 69, Marais Viljoen 0; Klerksdorp 59, Centurion 12; Monument 7, Kempton Park 5; Rustenburg 20, Florida 12.




