SuperSport Schools Plus

Affies verhang die bordjies teen Oakdale Landbou op Wildeklawer

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-04-29 Tags: , ,

News Affies Wildeklawer rugbyDie Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria se Wit Bulle se seisoen is vinnig besig om stoom op te bou. Affies het in die openingswedstryd van die Absa Wildeklawer-toernooi in Kimberley vir Oakdale Landbou met 25-7 die loef afgesteek. 

Die Wit Bulle het teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 20-7 op Diamantveld se hoofveld opgebou. Dit was die vleuel Marx Nel wat die vonk verskaf het wat die telbord aan die rol gekry het. 

Nel is sterk op sy bene en het met sy drie ‘n hele paar verdedigers van hom af laat spat. Nel het ook op die verdediging met sy lakwerk uitgestaan.

Create Infinity2

Dié sege was boonop soete wraak na Oakdale verlede jaar die Wit Bulle op hul tuisveld in die Jakarandastad met 46-21 afgestof het. Dit was die span van Riversdal se eerste sege ooit oor Affies. 

Affies se flank Dieter Schubert het ‘n skitterende wedstryd voorlangs beleef. Hy het fisiek by die afbreekpunte ingeklim en was ook op verdediging vir sy span goud werd. 

Schubert is ook na afloop van die wedstryd welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys.  

Affies se kaptein en losskakel, Stehan Heymans, kan ook tevrede met sy vertoning voel. Hy het ‘n paar lang lynskoppe lanseer om Oakdale terug te dryf en ook spel goed dikteer. Heymans is die seun van die voormalige senter van Noordwes en Oostelike Provinsie, Fanie Heymans. 

Oakdale se haker, Jurgen van Staden, het voorlangs gewoel en ‘n hele paar manne besig gehou. Agterlangs het Kobus Janse van Rensburg in die middelveld vir die span van Riversdal moedig probeer.

Affies kom Maandag in sy tweede wedstryd van die toernooi teen Glenwood van Durban te staan. Oakdale se tweede wedstryd is teen die ander rugbykrag van Durban, Durban High School

Puntemakers:

Affies 25 (20) – Drieë: Hanro Venter (2), Marx Nel. Doelskoppe: Stehan Heymans (2). Strafdoele: Heymans (2). Oakdale Landbou 7 (7) – Drie: André Goedhals. Doelskop: Kobus Janse van Rensburg. 

Ander spanne: 

o.16: Affies 33, Oakdale Landbou 0.

o.15: Affies 31, Oakdale Landbou 3.

o.14: Affies 31, Oakdale Landbou 0.

[powr-comments id=”1ef1da46_1651256999863″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.