SuperSport Schools Plus

Affies verhang bordjies teen Kloof; Grey behaal rekordsege oor Grey PE


NewsGGeorgeOosthuizenDie Hoërskool Menlopark se eersterugbyspan het die onbegonne taak gehad om ‘n sege in Vanderbijlpark oor Transvalia te behaal om sy kanse op ‘n plek in die uitspele van die Virsekerbeker lewend te hou.

Hoewel die Parkies sy velle op die draad agterlos het, is die deur voor die laaste poelwedstryde danksy die naelskraapse sege van 38-37 steeds op ‘n skrefie vir hulle oop.

‘n Strafdrie met speeltyd wat reeds verstreke was deur die skeidsregter, Lihan Pretorius, het aan Menlopark die sege besorg. Transvalia wat tot tien minute voor die einde nog in beheer was se afrigter, Jaco Kok, sal glad nie tevrede met die nederlaag wees nie.  

Die span van Vanderbijlpark benodig wel slegs ‘n bonuspunt uit sy laaste kragmeting teen Garsfontein om sy plek in die uitspele te verseker. Menlopark sal hoop dat Garsfontein hom ‘n guns bewys en Transvalia klop en van ‘n bonuspunt weerhou.

Garsfontein beklee die boonste posisie op die puntelys en het vroeër vanjaar teen Transvalia die knie in die Tuks-reeks gebuig. Garsies het die Nelspruit Rhinos Vrydag met 43-14 die loef afgesteek.

Monument het HTS Middelburg se Rooi Bulle op ‘n drafstap met 64-12 slae gegee.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het daarin geslaag om die bordjies teen Waterkloof in hul jaarlikse interskole te verhang. Affies het Klofies se Blou Tornado met 34-26 getem. Klofies was verlede jaar met 24-15 in die kragmeting baas.  

Dit was veral deur die taktiese spel van sy skakelpaar, Steyn van der Spuy en Regardt Roets, wat danksy die oorheersing van die Wit Bulle se agttal beheer van die wedstryd geneem het.

Voorlangs het die SA Skole-stut Dewald Donald en die haker, Janco Uys, gewoel. Die agtsteman, George Oosthuizen, en kantman Adolf Visser het ook die tuisspan besig gehou.

Klofies se vleuel Julian Bogner was gevaarlik elke keer wat hy bal in hand gekry het, terwyl sy flank en kaptein, Eckhardt Boshoff, vir Affies hoofbrekens by die afbreekpunte besorg het.

In die Virsekerbeker se Plaat-afdeling sal die stryd tussen Eldoraigne en Marais Viljoen Saterdag besluit wie bo-aan die puntestand sal eindig. Eldoraigne het ‘n moeilike kragmeting teen Montana met 43-32 gewen. Marais Viljoen het met 24-elk gelykop teen die Hoërskool Rustenburg gespeel.  

Louis Botha sal sy titel as kampioen van die Vrystaatse A-liga Saterdag teen Sentraal verdedig. Louis Botha het nie veel probleme ondervind om Jim Fouché met 56-6 in die halfeindronde kaf te draf nie.

Sentraal se Bloktruie moes veel harder werk om Fichardtpark met 27-17 te klop. Daar was teen rustyd met die telling op 17-elk nie veel tussen die twee spanne te kies nie.

Die Griffon-titel sal vanjaar staanplek in Welkom kry. Goudveld-Hoërskool sal ‘n tweede kans vanjaar kry om sy aartsvyand Welkom Gimnasium te verras. Gimmies het ‘n week gelede met 36-16 as oorwinnaars van die veld in die twee spanne se interskole-stryd getree.

Gimmies het sy onoorwonne status in die Noord-Vrystaat behou deur Witteberg van Bethlehem met 66-10 te verniel. Gouties het hulle plek in die eindstryd met ‘n klinkende sege van 41-23 bespreek.

Dit gaan keer kos om Riebeeckstad te weerhou om sy titel as kampioen van die Vrystaatse-platteland te behou. Riebies het verlede jaar vir die eerste keer daarin geslaag om dié trofee omhoog te hou.

Riebies het Ficksburg met 47-8 in die halfeindronde afgeransel om sy plek in die eindstryd teen Bothaville te bespreek. Die verdedigende kampioen het met 20-15 in die Sandveld-eindstryd verlede week die einste Bothaville getroef.

Duineveld is na sy sege van 22-19 oor Diamantveld in Upington die voorste skolespan in die Noord-Kaap. Sy Cravenweek-haker, Jannie Visser, was sonder twyfel die groot doring in Diamonds se vlees. Hy het veral met sy akkurate ingooiwerk in die lynstande beïndruk.

NewsGSelborneCollegeStellenberg maak weekliks ‘n al hoe sterker argument dat hulle onder die voorste skole in die Westelike Provinsie vrygelaat moet word. Stellenberg het nou wel sy rieme teen Boland Landbou styfgeloop, maar is duidelik ‘n span om mee rekening te hou.

Oakdale Landbou het op sy goeie peil voortgebou met ‘n oortuigende oorwinning van 47-3 oor die Wolramme van Marlow Landbou. Outeniqua se Kwaggas se sege van 22-14 oor Framesby is ook noemenswaardig.

Paul Roos het sy onoorwonne status vir 2018 behou deur met 44-17 oor Rondebosch Boys’ High baas te wees.

Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl het albei positiewe seges behaal voor hulle mekaar in die Grootste Derby op skolevlak in die wêreld pak. Hulle het onderskeidelik met Bishops (52-27) en SACS (25-10) afgereken.

In die Oos-Kaap het Grey-kollege van Bloemfontein waarskynlik sy grootste sege ooit oor sy naamgenoot Grey High School van Port Elizabeth met ‘n sege van 63-8 behaal.

Selborne College het ook nie veel genade op sy tuisveld vir Queen’s College gehad nie en met 76-13 as oorwinnaars van die veld gestap. Die span van Oos-Londen het gewys hoekom hulle vanjaar die meeste SA Skole-spelers van enige skool in Suid-Afrika opgelewer het.

AL DIE UITSLAE: 

VIRSEKERBEKER 

Afdeling 1 – Beker: Menlopark 38, Transvalia 37; Garsfontein 43, Hoërskool Nelspruit 14; Monument 64, HTS Middelburg 12. Plaat: Eldoraigne 43, Montana 32; Kempton Park 46, Centurion 14; Noordheuwel 43, Zwartkop 27; Hoërskool Rustenburg 24, Marais Viljoen 24. Skild: Oos-Moot 44, Lichtenburg 12; Hoërskool Middelburg 29, Hoërskool Pietersburg 24.

Afdeling 2 – Uitspeelwedstryde: Frikkie Meyer 73, Midstream College 19; Hoërskool Alberton 32, Lydenburg 28; Potchefstroom Volkskool 31, Ellisras 10; Wesvalia 52, Heidelberg Volkskool 20; Secunda 32, Piet Potgieter 17; Driehoek 33, Hoërskool Tuine 27; Dr. Malan 22, Overkruin 19.

Afdeling 3 – Uitspeelwedstryde: Curro Heuwelkruin 34, Hoogenhout 22; Riebeeckrand 22, Barberton 0; Louis Trichardt 38, Fochville 27; Schoonspruit 52, Akasia 6; Stoffberg 24, Gerrit Maritz 0; HTS Carel de Wet 31, Hendrik Verwoerd 27; Brandwag (Benoni) 50, Vryburg 27.

Afdeling 4 – Uitspeelwedstryde: Koster 18, Edenvale 17; Voortrekkerhoogte 22, Patriot 21; Swartruggens 37, Mitchellhouse 26; Hendrina 34, Curro Roodeplaat 19; Stella 37, Kempton Panorama 34.

NOORDVAAL

Affies 34, Waterkloof 26; Helpmekaar 40, Parktown Boys’ High 15; Jeppe High School 40, King Edward VII 25.

VRYSTAAT/GRIEKWAS

Grey-kollege 63, Grey High School 8; Welkom Gimnasium 66, Witteberg 10; Goudveld-Hoërskool 41, Voortrekker 23; Sentraal 27, Fichardtpark 17; Louis Botha 56, Jim Fouché 6; Duineveld 22, Diamantveld 19; Riebeeckstad 47, Ficksburg 8; Bothaville 26, Reitz 17; Brandfort 40, Sand du Plessis 17; St Andrew 45, President Steyn 21; Bultfontein 64, New Horizon 5; Hoopstad 27, Retief (Kestell) 26.  

OOS-KAAP/KWAZULU-NATAL

Selborne College 76, Queen’s College 13; Dale College 45, St Andrew’s College 25; Maritzburg College 27, Pretoria Boys’ High 14.

WES-KAAP

Boland Landbou 30, Stellenberg 21; Paarl Gimnasium 52, Bishops 27; Paul Roos Gimnasium 44, Rondebosch Boys’ High 17; Oakdale Landbou 47, Marlow Landbou 3; Outeniqua 22, Framesby 14; Hoër Jongenskool Paarl 25, SACS 10; Wynberg Boys’ High 32, Hoërskool Bellville 7; Hoërskool Durbanville 52, De Kuilen 0; Worcester Gimnasium 12, Parel Vallei 9; JG Meiring 39, President 15; Schoonspruit 86, Augsburg Gimnasium 0; Swartland 13, Hoërskool Tygerberg 12; Hermanus 24, Charlie Hofmeyr 12; DF Malan 29, Strand 17.

FOTOS: William Brown and Izelle van der Merwe.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.