Affies vat twee uit drie, maar Wynberg slaan terug

Afrikaanse Hoër Seunskool kon hul naweek in die Wes-Kaap afsluit met twee goeie seges, oor Paul Roos Gimnasium en Rondebosch Boys’ High School, maar Wynberg Boys’ High School het Saterdag opgemaak vir hul nederlaag verlede maand teen die Pretorianers by die Old Mutual Peninsula-krieketfees.
Beleef die wedstryde weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryde
Die Gautengers het hul veldtog Vrydag in Stellenbosch begin, waar hulle vir Paul Roos kon tem met vyf paaltjies.
Verlede jaar het die span van Stellenbosch vir Affies in Pretoria met 62 lopies geklop, dus was die besoekers oorgehaal om trots te herstel.
Divan de Villiers en Andru van Zyl het beide drie paaltjies platgetrek om die tuisspan uit te smoor vir slegs 97 lopies.
Jorich van Schalkwyk het deur 78 balle gekolf om sy span in die 30ste beurt reeds oor die lyn te dryf teen die Wynlanders.
In Januarie het Affies vir Wynberg met vyf paaltjies pakslae gegee op die laaste dag van die Peninsula-fees. Die span van die suidelike voorstede was egter vasberade om nié weer op hul tuisveld vas te val nie, en die SA Skole-kaptein, Beni Hansen, het sy span tot oorwinning aangevoer met ‘n puik beurt van 54 lopies.
Shadley Allie het sy kaptein bygestaan vir ‘n vennootskap van 59 lopies om Wynberg tot 181 aan te spoor, maar dit was die dissipline van die tuisspan se boulers wat uiteindelik wat die verskil was.
Van Schalkwyk het weer die toon aangegee met die kolf, voordat Divan Linde hom uitgeboul het. Linde het 3/38 gevat, maar Xavier Garvs het die kollig gesteel deur van vier van die besoekers ontslae te raak.
Op 166/7 was die span van Pretoria nog binne trefafstand, maar toe het Luke Kleinsmith twee paaltjies met agtereenvolgende balle platgetrek.
Joshua Prince het die oorwinning vir Wynberg verseker deur die laaste paaltjie in die 47ste beurt te neem.
Die besoekers moes hulself vinnig regruk en hergroepeer om Sondag hul derde wedstryd van die naweek, teen Rondebosch, te speel.
Divan de Villiers en Ruben Groenewald het met venyn geboul om vir Rondebosch van meet af onder druk te plaas. Na 19 beurte was Rondebosch teen die toue op 49/4.
Daniel Bosman het nietemin weerstand gebied om 89 balle te absorbeer vir 48 lopies, voordat de Villiers hom ook kon terugstuur kleedkamer toe.
Met ‘n doelwit van slegs 126 lopies het dit gelyk asof die besoekers die oorhand geniet, maar hierdie Rondebosch-span het al keer op keer hierdie jaar bewys dat hulle nooit ophou baklei nie.
Raeeq Daniels het die eerste twee paaltjies binne die eerste drie beurte laat val, en Affies moes sweet om die tuisspan se lae telling in te haal.
De Villiers het die leiding geneem met ‘n beurt van 32, vanaf 57 balle, maar die res van Affie-kolwers kon nie hul voete vind teen Rondebosch se meedoënlose boulaanval nie.
Daniels en Hlumelo Mgweba het gesamentlik ses besoekende kolwers laat sneuwel, terwyl Nathan Ball en Declan Gillespie elk ook ‘n paaltjie kon neem. Daniel Murray (19*) en Petrus Rautenbach (14*) het nietemin genoeg gedoen om die tuisspan se telling verby te steek vir ‘n tweede oorwinning in die Kaap.
Beknopte telkaarte:
18 Februarie
Rondebosch Boys’ High: 125 (Daniel Bosman 48, Noah Heath 28; Divan de Villiers 3/24, Ruben Groenewald 2/13, Wian Munnik 2/21, Jorich van Schalkwyk 2/21). Afrikaanse Hoër Seunskool: 129/8 (Divan de Villiers 32, Ekstras 22; Hlumelo Mgweba 3/14, Raeeq Daniels 3/27). Affies wen met twee paaltjies.
17 Februarie
Wynberg Boys’ High: 181 (Beni Hansen 54, Shadley Allie 39, Ekstras 27, Xavier Garvs 20; Divan de Villiers 2/23, Petrus Rautenbach 2/26, Armin Snyman 2/28). Afrikaanse Hoër Seunskool: 169 (Jorich van Schalkwyk 44, Henré Smith 32, Daniel Murray 21; Xavier Garvs 4/32, Divan Linde 3/38, Luke Kleinsmith 2/21). Wynberg wen met 12 lopies.
16 Februarie
Paul Roos Gimnasium: 97 (Riley Norton 22; Divan de Villiers 3/5, Andru van Zyl 3/30, Petrus Rautenbach 2/19, Armin Snyman 2/19); Afrikaanse Hoër Seunskool: 98/5 (Jorich van Schalkwyk 29*, Ruben Groenewald 24; Luca Plekker 3/42, Dian Winkel 2/26). Affies wen met 5 paaltjies.