Affies slag Durbanville af om Noord/Suid-toernooi op hoogtepunt af te sluit
Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het die jaarlikse NMI Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi op ‘n hoogtepunt afgesluit deur die Hoërskool Durbanville op die laaste dag van die toernooi op sy tuisveld met 73-6 af te slag. Affies het teen die omdraaislag reeds ‘n stewige voorsprong van 40-6 opgebou.
Die span van die Jakarandastad het duidelik ‘n nuwe aanslag vir 2022 ingeslaan. Die span onder die afrigting van Ruan Jacobs en Jaco Koch gee die bal heelwat meer lug as wat die Wit Bulle die afgelope paar jaar gedoen het.
Affies se stewige regtervleuel, Gustav Maritz, het ‘n driekuns aan drieë in die wegholsege oor Durbanville behaal. Die span se heelagter, JL van Rensburg, het self twee keer ‘n draai agter die doellyn gemaak.
Buiten Maritz het die losskakel, Stiaan Heymans, ook ‘n goeie dag op kantoor beleef. Heymans het nege van sy span se 11 drieë verdoel.
Voorlangs het die slot Andreas Burger, haker Hanro Venter en agtsteman, Beyers Roos, blink vertonings gelewer.
Affies het boonop in sy eerste wedstryd van die Noord/Suid-toernooi vir die eerste keer in jare daarin geslaag om Paul Roos Gimnasium (24-18) die loef af te steek.
Die Wit Bulle se volgende wedstryd vind op 9 April plaas wanneer hulle vir die eerste keer sedert 2010 vir die Hoërskool Garsfontein die stryd sal aansê.
Die Hoërskool Noordheuwel het sy toernooi met ‘n sege van 35-21 oor Welkom Gimnasium afgesluit. Die Nories het ‘n voorsprong van 21-14 teen lemoentyd geniet.
Die span van Krugersdorp se losskakel, JT Kapank, was soos gewoontlik aan die voorpunt van sy span se aanslag. Kapank beskik oor vinnige voete en wissel die spel goed af.
Sy skakelmaat, Coun-Lee Koekman, verdien egter ook ‘n reuse klop op die skouer vir sy vertoning in die wedstryd. Die wenspan se buitesenter, Matthew Gename, het ook ‘n hele paar keer bresse in Welkom Gimnasium se verdediging geslaan.
Voorlangs het die stut Arné Roux en die agtsteman, Marco Maree, meer as hul kant gebring. Roux het twee van sy lopies afgerond en sy span het die oorhand in die skrums gehad.
Vir Welkom Gimnasium kan sy skrumskakel, Connlin Treurnicht, en die binnesenter, Julian Samuels, tevrede met hul vertonings voel.
Puntemakers:
Affies 73 (40) – Drieë: Gustav Maritz (3), JL van Rensburg (2), Hanro Venter, Zack Maritz, Ewan van Heerden, Beyers Roos, Andreas Burger, Luchan Mouton. Doelskoppe: Stiaan Heymans (9). Hoërskool Durbanville 6 (6) – Strafdoele: Monray Daars (2).
Noordheuwel 35 (21) – Drieë: Arné Roux (2), Jeandré Schoeman, Marco Maree, Marshall de Vos. Doelskoppe: JT Kapank (5). Welkom Gimnasium 22 (14) – Drieë: Julian Samuels, Nkululeko Shabalala, Oliphant. Doelskoppe: Connlin Treurnicht (2). Strafdoel: Treurnicht.
[powr-comments id=”5978c2b6_1648792064693″]




