Affies laat Helpies les opsê

Afrikaanse Hoër Seunskool het Saterdag, ná ‘n ietwat stadige begin, goeie ritme gevind in die tweede helfte om uiteindelik gemaklik met die besoekende Helpmekaar Kollege af te reken.
Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Oopkantflank, Lohan Potgieter, en vaskopstut, Deon Botes, het elk twee keer gedruk in die Wit Bulle se oortuigende sege van 40-8 in Pretoria. Vernaam Botes het dikwels die oog gevang met sy kraglopies.
Slot, Christiaan de Wet, het self woelig vertoon voorlangs om die tuisspan se pak die oorhand te help gee. Indien Affies se pak hierop kan voortbou, behoort teenstanders dit uiters moeilik te vind om die “dieselenjin” van die Jakarandastad vanjaar te stuit.
Dié formidabele platform het die ideale geleentheid gebied vir skrumskakel, Zirk Meyer, om te wys waartoe hy in staat is. Meyer het met venynige breekslae om die afbreekpunte vir die Wit Bulle verder op die voorvoet geplaas, terwyl die skoon, vinnige balbesit wat die pak verskaf het ook vir losskakel, Ruben Groenewald, in staat gestel het om die agterlyn aan die gang te kry.
Helpies het met rukke en stote beïndruk en vernaam in die skrums, onderleiding van stutte, Liam Devenier en Dylan Engelbrecht, breed geglimlag. Die interaksie tussen voor- en agterspelers,, gerugsteun deur netjiese vaardighede, hou ook heelwat belofte in op die aanval.
Die tempo waarteen die Wit Bulle te werk gegaan het, het mettertyd egter sy tol geëis en aanleiding gegee tot 21 onbeantwoorde punte na die omdraaislag. Nes wat die geval was teen die Diamantveld verlede week, was Affies se afronding, wanneer dit die nodigste was, uit die boonste rakke om geleenthede in punte te omskep.
Puntemakers:
Affies 40 (19) – Drieë: Lohan Potgieter (2), Deon Botes (2), Christiaan de Wet, Divan Fourie. Doelskoppe: Ruben Groenewald (5). Helpmekaar Kollege 8 (8) – Drie: Shaye Lourens. Strafdoel: Wian Storm.
Ander spanne:
o.16: Affies 71, Helpmekaar Kollege 5.
o.15: Helpmekaar Kollege 23, Affies 15.
o.14: Affies 59, Helpmekaar Kollege 7.
 
 
 
 




 
  
  
  
  
  
  
  
  
 