Affies skop seisoen met sege teen Helpies af
Dis Affies se 34ste wen oor die Johannesburgers sedert die twee spanne die eerste keer in 1927 kragte gemeet het. Helpmekaar kon in die verlede 18 keer as oorwinnars uittree. In 2014 het dié twee skole die eerste keer sedert 1998 teen mekaar gespeel en vanjaar was die 57ste kragmeting.Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) het sy rugbyseisoen op ’n positiewe noot afgeskop met ’n oortuigende sege oor Helpmekaar Kollege. Die Pretorianers het 24-0 in Johannesburg gewen.
Affies het vier drieë gedruk terwyl die Wit Bulle se rotsvaste verdediging gekeer het dat Helpmekaar enige punte aanteken.
Helpies het ’n duidelike taktiek geïmplimenteer om die wedstryd stadig te maak. Affies moes 10 minute op die veld rondstaan terwyl Helpmekaar se span nêrens te sien was nie. Die wedstryd het byna 15 minute laat afgeskop.
Helpmekaar het eerste geleentheid gekry om punte aan te teken deur twee strafdoelpogings, maar die losskakel, Justin Taylor, se radar was onakkuraat.
Die manne van oorkant Loftus het met tipiese Affie-en Blou Bul-rugby Helpies ore aan gesit. Die Affie-skrum lyk na ’n gedugte eenheid met lof wat aan Jano Espag, die stut en Eduan Lubbe, die kaptein en vlank, moet gaan. Agterlanks het Affies se skrumskakel, Jack Hart sy agterlyn van goeie bal voorsien met veral Louritz van der Schyff, die buitesenter, wat gevaarlik gelyk het.
Affies se eerste drie het het vanaf ’n dryfmaal gekom toe Phillip Krause oorgeduik het. DIe telling was 5-0 na die doelskop mis was.
Kort voor rustyd het Affies se agterlyn Helpies bont laat staan en Christiaan Strydom, die linkervleuel het in die hoek oorgeduik om aan sy span ’n halftyd voorsprong van 10-0 te gee.
Helpmekaar se heelagter, Chuinier van Rooyen, het met sy vaart en systappe gereeld die verdediging bedreig, maar is tog in toom gehou.
Van der Schyff het na ’n aanskoulike agterlynbeweging oorgeduik. Ruan de Swardt, Affie-losskakel het verdoel om Affies se voorsprong 17-0 te maak.
Die frustrasie het op Helpmekaar se gesigte gewys en swak dissipline was ’n deurlopende kenmerk van dié span. Die skeidregter moes gereeld met Helpies oor hul humeur praat. Die praatwerk was egter laat in die tweede helfde iets van die verlede en, Helpies se plaasvervanger stut, is koelkas toe gestuur.
Affies het die voordeel onmiddelik uitgebuit en die bieliestut, Neill Bezuidenhout het onder die pale gaan kuier om Affies ’n 24-0 voorsprong te geen nadat De Swardt verdoel het.
Ten spyte van die groot oorwinning kon die telling waarskynlik nog groter gewees het indien Affies se hanteerwerk beter was.
In die ander wedstryde was dit egter nie ’n eensydige affêre nie met Helpmekaar wat die 0/14A (12-5) en o/16A (20-17) kragmetings gewen het. Affies se o/15A span het 66-0 gewen met die tweede span wat 47-5 gewen het.
Affies reis die naweek na Stellenbosch toe waar hulle die eer toegedoen is om ’n gedugte span van Paul Roos Gimnasium in die hoofwedstryd van dié se 150ste bestaansjaarvieringe aan te durf.
Helpmekaar speel 2 April teen Michaelhouse.
Puntemakers:
Affies 24 (10) – Drieë: Phillip Krause, Christiaan Strydom, Louritz van der Schyff, Neill Bezuidenhout. Doelskoppe: Ruan de Swardt (2). Helpmekaar 0 (0).




