Affies, Klofies en Maritzburg College behou onoorwonne status op Francois Swart-week
Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria se o.15-rugbyspan spog steeds met ‘n onoorwonne rekord na hy EG Jansen van Boksburg met 24-12 op die tweede dag van die Francois Swart-week verslaan het.
Affies is ook die gasheer van die week vir o.15-spanne. Hulle kom Saterdag op die laaste dag teen die Hoërskool Garsfontein in die hoofwedstryd te staan. Dit sal die eerste keer in ‘n aantal jare wees dat die twee skole mekaar op die rugbyveld ontmoet.
Garsfontein het teen Westville Boys’ High (24-26) in sy tweede wedstryde van die week vasgeval. Waterkloof het daarin geslaag om sy onoorwonne status te behou deur die gedugte span van Zwartkop met 24-21 te troef.
Welkom Gimnasium het ook getoon dat hy dalk ‘n meer amptelike uitnodiging in 2020 verdien. Gimmies het Kempton Park met 12-10 op die tweede dag geklop. Die span van Welkom moes vanjaar op die laaste nippertjie instaan na Lichtenburg onttrek het.
Helpmekaar-kollege het die Hoërskool Klerksdorp met 17-7 geklop in die twee spanne se ontmoeting op die tweede dag.
Maritzburg College het die Hoërskool Nelspruit met 45-3 kaf gedraf om ook sy onoorwonne status te behou. Die span van Pietermaritzburg kom Saterdag teen Kempton Park te staan.
Verwante Stories:
Groot tellings op die eerste dag van die Francois Swart Rugbyweek
Bepalings van die Francois Swart o.15-Week vir 2019 bekend
FOTO: William Brown
Die uitslae:
| Helpmekaar | 17 | Klerksdorp | 7 |
|---|---|---|---|
| Affies | 24 | EG Jansen | 12 |
| Waterkloof | 24 | Zwartkop | 21 |
| Westville Boys’ High | 26 | Garsfontein | 24 |
| Welkom Gimnasium | 12 | Kempton Park | 10 |
| Maritzburg College | 45 | Hoërskool Nelspruit | 3 |
[powr-comments id=”a6d6f4e7_1553329625281″]




