SuperSport Schools Plus

Affies karnuffel vir Boland Landbou, Oakdale bobaas teen Jeppe

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-03 Tags: , , , , , ,

ANRICH SCHEFFER, buitesenter van Oakdale Landbou, duik hier oor die doellyn in sy span se oorwinning van 42-27 oor Jeppe. FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Die Afrikaanse Hoër Seunskool se Wit Bulle is vanjaar van stoetgehalte.

Affies het vir Boland Landbou met 74-14 gekarnuffel. Die span van Pretoria se kaptein en losskakel, Ruben Groenewald, was soos gebruiklik weer ‘n staatmaker.

Groenewald het sewe van sy span se 12 drieë verdoel. Hy het agterlangs rigting aan sy span se aanslag gegee.

Sy skakelmaat, Fourie Roberts, verdien ook ‘n klop op die skouer vir sy diens aan Groenewald. Hy het ook sy tweestryd met die hoogaangeskrewe Jayden Brits gewen.

Die span se slot Christiaan de Wet is welverdiend vir sy vuurvreter-vertoning as die Speler van die Wedstryd aangewys. Dit was sonder twyfel De Wet se beste vertoning nog in ‘n Wit Bul-trui.

Old School

De Wet het ook twee keer ‘n draai agter Boland Landbou se doellyn gemaak. Saam met hom het Roal Kruger (loskopstut), Elwin Jansen van Vuuren (flank) en Henlu Jordaan (agtsteman) voorlangs die grondslag vir dié sege gelê.

Affies het reeds teen rustyd ‘n stewige voorsprong van 33-0 opgebou. Boland Landbou se vleuel Jason Ocks het self dubbelle driedruk-plesier ervaar.

Oakdale Landbou het vir Jeppe High School for Boys met 42-27 omgedop. Die span van Riversdal se binnesenter, Christiaan Vorster, was soos gewoonlik weer op sy stukke.

Vorster is sterk op sy bene en word nie maklik grond toe gebring nie. Hy en die losskakel, CT Vosloo, het as mekaar goed aangevul. Vorster het twee keer oor die doellyn gebars en ook met die toekenning as Speler van die Wedstryd weggestap.

Voorlangs het die agtsteman, Jakobus de Villiers, asook die flank en kaptein, Jannes Snyman, goeie vertonings opgedis.

Puntemakers:

Oakdale Landbou 42 (14) – Drieë: Christiaan Vorster (2), Anrich Scheffer, Jannes Snyman, Jakobus de Villiers, Adrian Smith. Doelskoppe: CT Vosloo (6). Jeppe High School for Boys 27 (6) – Drieë: Lagan Liesler, Jack Cannon, Imivuyo Kwenxe. Doelskoppe: Nehemia Hollenbach (3). Strafdoele: Hollenbach (2).

Affies 74 (33) – Drieë: Christiaan de Wet (2), Joshua Gouws (2), Elwin Jansen van Vuuren, Luhan Potgieter, Nicolaas Grobler, Henlo Jordaan, Lamond Baaitjies, SE du Toit, Divan Fourie, Fourie Roberts. Doelskoppe: Ruben Groenewald (7). Boland Landbou 14 (0) – Drieë: Jason Ocks (2). Doelskoppe: Jayden Brits (2).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.