SuperSport Schools News

Affies baas oor die Bulle van Riversdal, Megedezi-magic sink Helpies

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-03-28 Tags: , , , , , ,

Grey Kollege se Eddie Mabena op die aanval in sy span se 51-19 sege oor Helpmekaar Kollege in Pretoria. FOTO: Wim Pretorius.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria (Affies) se Wit Bulle het ten spyte van ‘n swaar tyd in die skrums, daarin geslaag om die Bulle van Oakdale Landbou in die hoofwedtryd op die tweede dag van die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi in Pretoria.

Die Pretorianers het na ‘n uitsonderlike fisieke stryd met 28-17 koning gekraai. Die Bulle se pak het behoorlik in die skrums amok gesaai met dié wat uiteindelik sy hoofbron van strafskoppe sou word. Affies kon egter ‘n teenvoeter daarvoor met skitterende rankwerk in die lynstane vind.

Die tuisspan se kaptein en slot, Martin van Niekerk, was die groot doring in die besoekers se vlees.

Albei spanne sal egter weer in diepte na hul eie lynstane gaan kyk aangesien dit hoofbrekens albei kante toe veroorsaak het. Die armdruk in die vaste fassete het gesorg vir ‘n stryd wat groot en deels enige kan toe kon gaan.

Die doodskoot is nietemin deur die Wit Bulle se hoofseun en binnesenter, Juan Ferreira, voor ‘n groot kontingent oud-leerlinge, onder die pale toegedien. Ferreira se sentermaat, Estian Marx, kan ook in sy noppies wees, veral met die vertoning wat hy op die aanval gelewer het.

Oakdale se kaptein en agtsteman, Jacobus de Villiers, was sy span se grootste uitblinker. De Villiers was oudergewoonte weer die veld vol en het menigde kere die skote laat klap met sy reuse duikslae.

In die vernaamste voorwedstryd, het Grey Kollege se Lamla Mgedezi die groot skare op Affies bederf met nie minder nie as drie aanskoulike individuele drieë bederf. Mgedezi het die span van Bloemfontein se eerste en laaste drie gedruk in sy span se sege van 51-19 oor Helpmekaar Kollege.

Die eerste helfte tussen die twee was van die aanskoulikste rugby nog by vanjaar se Noord/Suid toernooi. Albei spanne het nie geskroom om moue op te rol nie en kon die duikslae tot op die pawiljoen gehoor word. Die span van die Rosestad se tempo en vermoeë om elke keer af te rond was egter net teveel vir die Johannesburgers.

Helpies se kaptein en flank, Llewelyn Vermaak, was soos gebruiklik, die Johannesburgers se hardste werker, terwyl vleuel Francois Tonkin ‘n doring op die verdiging was.

Puntemakers

Affies 28 (21) – Drieë: Francois de Beer, Kyle van Staden, Estian Marx, Juan Ferreira. Doelskoppe: Reuben Smith (4). Oakdale Landbou 17 (10) – Drieë: Bernard Badenhorst, Marc-Hein Fourie. Doelskoppe: Caleb Williams (2). Strafdoel: Williams.

Grey College 51 (22) – Drieë: Lamla Mgedezi (3), JW Coetzee, Xander de Beer, Eddie Mabena, AJ Hendricks. Doelskoppe: Christoff Crous (3), Samson Lackay (2). Strafdoele: Crous (2). Helpmekaar Kollege 19 (12) – Drieë: Jeandré van der Merwe, Shaye Lourens, John van Druten. Doelskoppe: Ethan Kruger, Shaye Lourens.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.