SuperSport Schools Plus

Affie-pak karnuffel Garsies vir eerste sege in drie jaar

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-04-06 Tags: ,

Foto: Frans Lombard

Brute krag was aan die orde van die dag in Pretoria.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools. Skakel na die wedstryd.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool se pak voorspelers het die sleutel gebied tot hul eerste oorwinning oor Hoërskool Garsfontein in drie jaar. Affies het met ‘n naelbyttelling van 33-31 as oorwinnaars uit die titaniese stryd getree.

Affies het die tuisspan behoorlik gekarnuffel voorlangs, met verál hul verdediging teen die Garsies se sterk dryfmale wat die Bere gekortwiek het. Dit het voorts daartoe gelei dat die Bere deurgaans onder enorme druk geplaas is.

Albei spanne het groot fisiekheid tafel toe gebring, maar dit was die Wit Bulle wat die kontakpunte, met reuse duikslae, beheer het. Die oorhand onder die grootmanne het ‘n platform geskep vir die Affie-snellers om aanskoulike, hardlooprugby te speel.

Buitesenter, Nicholaas Grobler, was die eerste om deur te breek vir ‘n drie, waarna Affies voet in die hoek gesit het vir die twee vleuels, Roux Eagan en Rikus Strydom, om ook voor rustyd agter die tuisspan se doellyn te gaan kuier.

Die Bere het met rukke en stote in die eerste helfte goeie rugby gespeel. Dit was egter in die tweede skof dat dit begin lyk het asof die tuisspan hul ritme begin vind. Die spoedvraat op linkervleuel, Junaide Stuart, het kort na die omdraaislag teruggeslaan met sy tweede drie.

Sy eerste, het gekom van ‘n slinkse steekskoppie deur skrumskakel Brooklyn Newman, wat die Affie-verdedigers onkant betrap het. Newman is laat in die wedstryd self met ‘n drie beloon, wat die Bere se agterstand na slegs twee punte laat krimp het, met twee minute speeltyd oor.

Daardie drie het die Bere gelig en dit was so hittete of die tuisspan het in doodsnikke deurgebreek, vanuit hul eie halfgebied, om ‘n haas uit die hoed te pluk. Ongelukkig, tot die teleurstelling van die groot tuisskare, het dit nie uitgewerk vir hulle nie en kon Affies genoegsaam spartel om die moedige terugvegpoging te stuit.

Puntemakers:

Afrikaanse Hoër Seunskool 33 (21) – Drieë: Nicolaas Grobler, Roux Eagan, Rikus Strydom, Stephan McDonald. Doelskoppe: Ruben Pienaar (2). Strafdoele: Pienaar (3). Hoërskool Garsfontein 31 (12) – Drieë: Junaide Stuart (2), Ethan van Wyk, Stephan Pretorius, Brooklyn Newman. Doelskoppe: Luan Ferreira (2), Handre Maree.

Ander spanne: 

o. 16: Affies 40, Garsfontein 34

o. 15: Garsfontein 10, Affies 7

o. 14: Garsfontein 25, Affies 7

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.