Abrahams blink terwyl Grey se eerste toets van die seisoen slaag
Grey-kollege het sy eerste groot toets van die seisoen geslaag deur die Hoërskool Stellenberg met 43-27 op die eerste dag van die NMI Toyota Menlyn Noord/Suid in Pretoria te verslaan.
Sy skrumskakel, Caleb Abrahams, was met ‘n driekuns aan drieë aan die spits aan die oorwinning. Abrahams wat verlede jaar vir die SA o.18-span gekies was, is welverdiend ook as Speler van die Wedstryd aangewys.
Dit was egter nie so maklik as wat die telling aandui nie. Grey sou vooraf verwag het dat die Jade Brigade met ‘n aanslag sou kom, veral na Paarl Gimnasium hom slegs 12-6 die vorige week kon klop.
En dit was ‘n hewige aanslag deur die troepe van Stellenberg. ‘n Strafdrie asook Abrahams wat sy driekuns in die laaste beweging van die kragmeting voltooi het, het die telling van 31-27 na 43-27 gerek.
Toe Stellenberg se linkervleuel, Ughen Africa, na ongeoorloofde spel met 15 minute se speeltyd oor deur die skeidsregter, Christopher Allison, koelkas toe gestuur was, het meeste gedink die skrif is aan die muur. Boonop het Stellenberg kort voor die geelkaart ‘n geleentheid verbrou op ‘n strafdoel vanaf die halflyn pale toe te korrel wat die telling op 23-17 in hul guns sou swaai.
Die Jade Brigade se losskakel, Tommie Smook, het sy skopstewels aangehad, maar daar is op die ingewing van die oomblik besluit om ‘n vinnige tikskoppie te neem. Dit was die een groot draaipunt in die kragmeting.
Grey sou verskoon word indien hul na Alfondso Isaacs se drie asook Abrahams se tweede gedink het, dat die besoekers uit die Kaap die handdoek sou ingooi. Stellenberg se onderskep-koning, Damian Markus, het egter sy span terug in die wedstryd gebring deur onder die pale te gaan afrond. Smook het dit vervyf om die telling op 31-27 in Grey se guns met agt minute se speeltyd oor te bring.
Markus was uitstaande en het op ‘n slag selfs ‘n voorspeler van Grey etlike meters ver terug op verdediging gedryf. Die flank Wessel Joubert, agtsteman Franco Roux en haker, Josh Lilistone, was dorings in die span van Bloemfontein se vlees.
Buiten Abrahams het Grey se slot JF van Heerden ‘n uitmuntende vertoning gelewer. Hy het in die los gewoel en ‘n hele paar keer ver veld met sy kraglopies gewen. Die flank Lukas Meyer het die veld vol gespeel en hou op sy eie twee spelers op ‘n slag besig. Die kaptein en stut, Tat Botha, het ook sy span van voor gelei.
Stellenberg het met swart op hul moue gespeel in solidariteit met hul afrigter Corné Kannemeyer wie se ma, Terena Kannemeyer, Maandag in ‘n motorongeluk oorlede is. Kannenmeyer kon nie saam met die span na Noord/Suid toer nie. Sterkte in hierdie moeilike tyd aan die Kannemeyer-familie.
Puntemakers:
Grey-kollege 43 (12) – Drieë: Caleb Abrahams (3), Lukas Meyer, Juanré Breitenbach, Alfondso Isaacs, Strafdrie. Doelskoppe: Bradley Giddy (3). Stellenberg 27 (10) – Drieë: Kobus Verster, Ughen Africa, Damian Markus. Doelskop: Tommie Smook (3). Strafdoele: Smook (2).
[powr-comments id=”a4ce4c9f_1648231645886″]




