SuperSport Schools Plus

Abbey se stewel stuit Zwarries se segetog

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-23 Tags: , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Hoërskool Middelburg se Matthew Abbey het met sy skopskoen Hoërskool Zwartkop se onoorwonne seisoen, asook sy hoop om vir ‘n eerste keer die Plaat-eindstryd te haal, beëindig.

Herleef al die SDC Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools)

Abbey het ongetwyfeld sy beste voet voorgesit in Vrydagaand se halfeindstryd in Centurion. Nie alleen was die losskakel se taktiese spel van hoogstaande gehalte nie, maar sy visier was dodelik ingestel om die Middelburgers in ‘n amperse toetsatmosfeer tot ‘n naelbytsege van 22-19 oor die Vikings te lei.

Dit was die Zwarries se eerste nederlaag in 18 wedstryde, en hul eerste vanjaar.

Die besoekers het elke geleentheid om punte op die bord te sit aangegryp, en uiteindelik drie drieë teen die een van Middies aangeteken, maar Abbey het dit telkens met sy stewel geneutraliseer. Die Pumas se Cravenweek-losskakel het koel en kalm gebly om sy span se drie te verdoel en vyf strafdoele  deur die mikke te jaag.

Soos die geval met enige halfeind waar die opponente uitstekend teen mekaar opweeg, het die twee spanne in die eerste 15 minute versigtig houe gewissel om hul aanvalsritme stelselmatig te vind.

Dit was uiteindelik ‘n steekskoppie deur die Zwarries se generaal, Tilon Baron, wat op die Vikings se eerste drie, deur linkervleuel, Stiaan Botha, uitgeloop het. Hoewel Baron nie ‘n gelukkige dag vanaf die skopkegel beleef het nie, was sy taktiese spel en visie oudergewoonte uit die boonste rakke.

Die tuisspan het meedoënloos begin aanval om die besoekende Middies knaend onder druk te plaas. Middelburg se verdediging was deurgaans rotsvas, hoewel die Zwarries daarin geslaag het om drie keer agter die doellyn te draai.

Abbey het op Baron se taktiese vernuf met stukkies briljante individuele spel van sy eie geantwoord. ‘n Enorme lynskop het byvoorbeeld gelei daartoe dat Wian Olwagen, in sy eerste wedstryd terug na sowat twee maande, kon oorbars, om met die omdraaislag, en onder taamlike druk, ‘n naelskraapse voorsprong van 13-12 aan sy span te besorg.

Abbey se twee strafdoele in die eerste helfte het ook gehelp om die momentum te laat swaai en die Middies vroeg in die tweede skof op die voorvoet te plaas. Hulle het voortgebou op dié momentum om, soos die Zwarries, herhaaldelik te begin aanval, met Olwagen wat uitmuntend was in daardie opsig.

Skrumskakel, Keabetswe Nkgadima, se ervaring het ook deurgeskemer. Dit was Nkgadima en Abbey se tweede seisoen saam as skakelpaar, en eersgenoemde het sy losskakel van puik diens verseker.

Die Vikings se haker, Regan Blignaut, het uitgetroon met sy barslopies en hoë werkverrigting, selfs in die tweede helfte toe die Middies die oorhand geniet het. Blignaut is welverdiend met ‘n tweekuns aan drieë beloon.

Die uitstaande kenmerk van die kragmeting was egter albei spanne se vasberadenheid op die verdediging. Dit was vernaam in die laaste kwartier, toe die skote behoorlik geklap het, dat die Zwarries se laaste greintjie net nie genoeg was om Abbey se stewel te klop en oor die lyn te kom nie.

Puntemakers: 

Zwartkop (12) – Drieë: Regan Blignaut (2), Stiaan Botha. Doelskoppe: Tilon Baron, Luan Janse van Rensburg. Strafdoele:
Hoërskool Middelburg (13) – Drieë: Wian Olwagen. Doelskop: Matthew Abbey: Strafdoele: Abbey (5).

Ander spanne: 

o.16: Hoërskool Middelburg 17, Hoërskool Klerksdorp 11.

o.15: Oos-Moot 29, Kempton Park 28.

o.14: Wesvalia 37, HTS Middelburg 20.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.