Grey hou proewe op President Steyn se jaarlikse sportdag
Die Hoërskool President Steyn bied Saterdag vir die 28ste keer sy jaarlikse sportdag in Bainsvlei net buite Bloemfontein aan. Dit maak die sportdag ook die oudste van al die sportdae in die Vrystaat en die Noord-Kaap.
Die gasheer se eerstespan sal in die hoofwedstryd van die dag teen sy eweknie van die Hoërskool Bultfontein op Gonval Store-park te staan kom. Die Steyners wat nooit bang is om teen die groter honde uit te draf nie, het verlede jaar sy rieme in die hoofwedstryd teen Grey-kollege se sesde span met 57-10 styfgeloop.
Die Steyners speel altyd opwindende rugby en is nie lief om onnodig die bal weg te skop nie. Daar kan dus verwag word dat die besoekers van Bultfontein se verdediging behoorlik op die proef gestel sal word.
Grey-kollege het vanjaar twee spanne na die dag gestuur. Die kragmeting tussen die twee spanne van Grey sal as finale proewe vir die land se voorste skolespan van 2019 dien. Die wedstryd behoort dit een van die hoogtepunte van die dag te wees, met van die voorste skolespelers in Suid-Afrika wat sake sal uitspook om Grey se gesogte eerstespan-trui vanjaar oor die kop te kan trek.
Die Steyners se skoolhoof, Roelf Meyer, sal ook Saterdag ‘n unieke geleentheid hê om te sien waar die nasionale skolekeurders dalk ‘n speler of twee van Grey oor die hoof vir die SA Skole-oefenkamp, wat die naweek in Stellenbosch gehou word, gesien het. Meyer is self een van die SA Skole-keurders en was tot en met 2018 by Grey-kollege betrokke gewees.
Nie dat die SA Skole-keurders nie Grey se talent reeds fyngekam het nie. Grey het met nie minder as nege spelers die grootste verteenwoordiging van al die skole in die land by die oefenkamp. Die nege spelers is Tielman Nieuwoudt (stut), Sonwabo Sokoyi (heelagter/vleuel), Franco Knoetze (veelsydige agterspeler), Sisonke Vumazonke (slot/flank), Cornelius Volschenk (flank), Juan-Dee Oliver (skrumskakel), Jean Smith (losskakel), en Reagan Izaks (senter).
Toeskouers wat die dag bywoon kan ook hulle lippe aflek vir die tweestryd tussen die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort en Wessel Maree van Odendaalsrus. Die Foxies van Brandfort sal die seisoen op ‘n hoë noot wil afskop.
Die Steyners se klubspan sal ook na afloop van die hoofwedstryd om 16:00 in ‘n wedstryd betrokke wees. Die sportdag het 32 rugbyspanne wat in 16 wedstryde in aksie sal wees, terwyl daar ook 44 netbalspanne sake op die netbalbane sal uitspook.
Die bepalings is:
Gonval Store-park
08:00 – o.16 – President Steyn vs Riebeeckstad
09:05 – o.19 – Sand du Plessis vs Riebeeckstad
10:15 – o.19 – Hoërskool Bloemfontein vs Petrusburg
11:25 – o.19 – Hendrik Potgieter (Reddersburg vs Ladybrand
12:35 – o.19 – Brandfort vs Wessel Maree
13:45 – o.19 – Grey College I vs Grey College II
14:55 – o.19 – President Steyn vs Hoërskool Bultfontein
B-veld
08:00 – o.14 – Hoërskool Bloemfontein vs Oranjekrag
09:05 – o.16 – Hoërskool Bloemfontein vs Oranjekrag
10:10 – o.16 – Sand du Plessis vs Bultfontein
11:15 – o.14 – Riebeeckstad vs Grey-kollege III
12:20 – o.16 – Hendrik Potgieter vs Ladybrand
C-veld
08:00 – o.14 – Sand du Plessis vs Hendrik Potgieter
09:05 – o.14 – Brandfort vs Wessel Maree
10:10 – o.14 – President Steyn vs Grey-kollege IV
11:15 – o.16 – Brandfort vs Wessel Maree
LEES MEER:
Riemlanders lag laaste op President Steyn se jaarlikse Sportdag
[powr-comments id=”b6da6fa9_1582872870911″]
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30