SuperSport Schools Plus

Rautenbach, Holtzhausen span saam om Oranje na nuwe hoogtes te lei

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-10-14 Tags: ,

Maryka Holtzhausen en Ané Rautenbach.

Meisieskool Oranje het die ervare en passievolle Ané Rautenbach en Maryka Holtzhausen aangestel as mede-afrigters van die o.19A-netbalspan.

Rautenbach en Holtzhausen vorm ’n dinamiese span wat kennis, ervaring en entoesiasme kombineer om Oranje se trotse netbaltradisie verder uit te bou.

Rautenbach, ’n wetenskaponderwyser aan Oranje, het die afgelope twee jaar met groot sukses aan die skool se jonger spanne leiding gegee. Haar o.14A-span het vanjaar vierde by die Suid-Afrikaanse skolekampioenskap geëindig, terwyl haar o.17A-span in 2023 ’n sewende plek behaal het. Sy bring ook waardevolle ervaring as voormalige eerstespan-afrigter by Hoërskool Lydenburg.

Holtzhausen is ’n bekende naam in Suid-Afrikaanse netbalkringe. Die voormalige Protea-kaptein, met 116 toetse agter haar naam, dien tans as senior bestuurder by KovsieSport. Sy het reeds sterk bande met Oranje, as afrigter van die o.19A-span in 2016 en 2017, en het vanjaar as hulpafrigter opgetree. Holtzhausen het ook Eunice se o.19A-span afgerig en was deel van die Kovsies se afrigtingspan.

Saam bring hierdie twee dames ’n balans tussen ervaring op internasionale vlak en ’n diep begrip van skolenetbal. Hulle deel ’n duidelike visie vir die toekoms van Oranje se eerste span en beklemtoon die belangrikheid van kultuur, samewerking en groei.

“As ‘n afrigtingspan is ons baie opgewonde vir die geleentheid. Ons wil graag ’n netbalkultuur vestig waar elke meisie waardig en veilig voel, en saam as ’n span drome najaag wat groot genoeg is om ons te inspireer en ook uit te daag,” sê hulle.

Met twee sulke gedugte afrigters aan die stuur, is Oranje se eerste span in 2026 oorgehaal om hul merk te maak op die nasionale netbalverhoog.

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.