SuperSport Schools Plus

Stuart-tweekuns maak dit 3 uit 3 vir Beker-Bere

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-30 Tags: , , , ,

JP PIETERSE, kaptein van Hoërskool Garsfontein, vier sy span se sege saam met staatmakers, Junade Pasensie en Junaide Stuart, en die res van die Bere-span. FOTO: Marius Nortjé.

Kenners meen daar is geen plaasvervanger vir spoed op die rugbyveld nie, en dit was Saterdagmiddag beslis weer die geval op Berepark.

Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Hoërskool Garsfontein se giftige agterste driehoek het die feit benadruk in die Bere se spogsege van 30-19 in die eindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, teen Helpmekaar Kollege.

Die Bere se derde agtereenvolgende Noordvaal-titel op die hoogste verhoog plaas hulle nou in uitgelese geselskap.

Garsies is die eerste skool wat in die nuwe millennium die titel drie keer agtereenvolgens kon inpalm, terwyl hulle die vyfde skool in 105 jaar is, na Potchefstroom Volkskool, Pretoria Boys High, Hoërskool Zeerust en Afrikaanse Hoër Seunskool, wat dié besonderse prestasie behaal het.

Affies is steeds die voorloper met vyf agtereenvolgende seges, maar met nie minder nie as 11 Graad 11’s in vanjaar se eerste span, kan die Bere volgende seisoen nogmaals ‘n reusekrag in die Beker-afdeling van die oudste skolekompetisie in Suid-Afrika wees.

Die Bere het hulself Saterdag teen rustyd nietemin met die rug teen die muur bevind. Hoewel hulle feitlik ál die rugby in die eerste helfte gespeel het, het Garsies met die omdraaislag ‘n agterstand van 5-12 in die gesig staar. Stelskopwerk het hulle in die steek gelaat, terwyl ongedwonge foute die gashere ook weerhou het daarvan om af te rond.

Die Helpies, daarenteen, het hul kanse aanvanklik beter benut. Dit was verál losskakel, Wian Storm, wat met ‘n “Storm-lopie” deur die middel van die veld gebars en drie verdedigers geklop het vir sy span se eerste drie.

Zaiden Krige, wat vroeg vanaf die bank ingespan is, het kort na Storm ook die doellyn oorgesteek. Helpies het vroeg in die tweede helfte weer toegeslaan toe Jandré Botha swak verdediging uitgebuit het om sy naam ook op die telbord te kry.

Hoewel dit nie Bere-losskakel, Joshua Gouws, se beste dag vanaf die skopkegel was nie, was sy taktiese skopwerk steeds van hoogstaande gehalte. Dit was juis een van sy ellelange skoppe, van binne sy eie kwartgebied, wat die momentum finaal in die guns van die Bere geswaai het.

Garsies se driekuns-held in albei die vorige twee wedstryde, Yuvrah George, is vandeesweek vanaf die bank ingespan, ‘n besluit wat duidelik vrugte afgewerp het. George het die broodnodige vonk verskaf wat die welbekende skrumpet-brigade van die tuisspan oplaas aan die gang gekry het.

Die drietal met die kopskerms, insluitende Junade Pasensie, het na hartelus begin aanval en dit het as geen verrassing gekom toe SA Skole-vleuel, Junaide Stuart, binne ‘n oogwink twee keer gaan druk het nie, terwyl losskopstut, Morné Coetzer, die finale, vyfde spyker in Helpmekaar se kis gemoker het.

Puntemakers: 

Garsfontein 30 (5) – Drieë: Junaide Stuart (2), JP Pieterse, Drewyn Baron, Morné Coetzer. Doelskop: Joshua Gouws. Strafdoel: Gouws. Helpmekaar Kollege 19 (12) – Drieë: Wian Storm, Zaiden Krige, Jandré Botha. Doelskoppe: Storm (2).

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.