Geskiedkundige driekuns wink vir Garsies in Beker-eindstryd


Geen span het, sedert die ontstaan van die Noordvaal-reeks (voorheen Virsekerbeker) se Beker-afdeling sewe jaar gelede, daarin kon slaag om dié titel drie keer agtereenvolgens te verower nie.
Volg al die SDC Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) of Kanaal 216
Dit is die geel wortel voor die neus van Hoërskool Garsfontein, die verdedigende kampioen van die afgelope twee jaar, wanneer hy Saterdag vir gevaarlike Helpmekaar Kollege in die eindstryd op Berepark verwelkom.
Die Helpies se matriek- sowel as Graad 11-groep is as kampioen op o.16-vlak in onderskeidelik 2023 en 2024 gekroon.
Die Lourens-tweeling, Ethan en Shaye Lourens, twee van die Helpies se grootste uitblinkers vanjaar, was verlede jaar staatmakers in Helpies se seëvierende o.16-span van verlede jaar. Helpies se kaptein, Ty Ax, en sy o.16-span het in 2023 ook die trofee omhoog gehou. Dié groeiproses is voortgesit met ál drie bogenoemde spelers wat vanjaar hul buiging by die Cravenweek vir die Leeus gemaak het.
Dit is juis hoekom die Bere se hoofafrigter, Johan du Plessis, meen dat die Helpies Saterdag straks die eindstryd as gunstelinge betree.
“Helpmekaar is ‘n gedugte span en dus besef ons dat dit nie ‘n maklike taak gaan wees om hulle in die eindstryd te klop nie,” het Du Plessis vandeesweek gesê.
“Ons fokus nooit te veel op geskiedenis nie, want elke jaar bring ‘n nuwe span, met nuwe uitdagings en kombinasies. Daarom fokus ons nie op dit wat die vorige twee jaar gebeur het nie, en weet ons ook dat die bal in enige rigting kan hop, vernaam in ‘n eindstryd.”
Die Bere sal, nes verlede week voor hul halfeindstryd teen Menlopark, weer kopkrap oor hoe die span Saterdag daar gaan uitsien.
Yuvrah George se twee agtereenvolgende driekunste maak dit moeilik om hom uit die span te laat, maar terselftertyd sit die tuisspan met SA Skole-vleuel, Junaide Stuart, en Drewyn Baron wat elkeen op enige gegewe dag iets uit niks kan optower. Stuart het in die halfeind teen die Parkies ‘n onmiddelike impak gemaak vanaf die bank, terwyl Baron ook sy indrukwekkende self was.
Boonop beskik Garsies oor die SA Skole “A”-heelagter, Junade Pasensie, wat waarskynlik vir die laaste keer as ‘n Beer in die nr.15-trui sal uitdraf. Dit alles maak die Garsies se keuse van kombinasies in die agterlyn uiters interessant.
Nuus vanuit die Helpies se kamp is dat hul beginspan, wat vir Hoërskool Noordheuwel met 39-36 getroef het, onveranderd bly ter wille van momentum. Die Helpies het wel vroeër vanjaar met 29-47 teen die Bere vasgeval, maar sedertdien hul ritme gevind en geen ander nederlaag in die rondomtalie-ronde gely nie.
Die span van Johannesburg kan Saterdag self ‘n stukkie geskiedenis skryf.
Indien Helpies die Bere kan klop sal dit die eerste keer in 50 jaar, sedert 1975, wees wat hulle as kampioen op die grootste verhoog in die Noordvaal gekroon word. Hulle het wel in 2016 en 2017 die Grootskole-trofee verower, en in 2019 weer die Beker-eindstryd gehaal, maar met 17-44 teen Hoërskool Menlopark verloor.
Dit is heel gepas dat vanjaar se twee Beker-voorlopers sake in die laaste en grootste wedstryd van die seisoen uitspook, en dit beloof 70 minute van naelbytrugby in Pretoria.
Die spanne is:
Garsfontein t. Helpmekaar Kollege om 14:00 op Berepark in Pretoria:
Garsfontein (moontlik): 15 Junade Pasensie, 14 Junaide Stuart, 13 Xian Erasmus, 12 Keagan Knighton, 11 Yuvrah George, 10 Joshua Gouws, 9 Derrick Kuhn, 8 Lourenz de Jager, 7 JP Meintjies, 6 JP Pieterse, 5 Derik Potgieter, 4 JJ Fourie, 3 Morné Coetzer, 2 Justin Blom, 1 Brendon Branford.
Helpmekaar Kollege: 15 Ty Ax (kaptein), 14 Kean Butler, 13 Clinton Cloete, 12 Ethan Lourens, 11 Michael Herbst, 10 Wian Storm, 9 Shaye Lourens, 8 Llewelyn Vermaak, 7 Eugene de Lange, 6 Zaiden Krige, 5 Jandré Botha, 4 Diandro Botha, 3 Dylan Enlgenbrecht, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.
Skeidsregter: Excellent Mnkomo (Limpopo)
Ander eindstryde:
o.16 – 12:30 – Menlopark t. Monument
o.15 – 11:00 – Garsfontein t. Noordheuwel
o.14 – 09:30 – Noordheuwel t. Helpmekaar