SuperSport Schools Plus

Meer as perfekte seisoen op die spel vir Zwarries

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-21 Tags: , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Wanneer die Zwarries Vrydagaand in hul halfeindstryd teen Hoërskool Middelburg uitdraf is daar meer as bloot ‘n perfekte seisoen op die spel vir die Vikings.

Volg al die SDC Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Hoërskool Zwartkop se eerste span beleef vanjaar ‘n droomseisoen. Die span van Centurion het nog nie een van sy vorige 17 wedstryde vanjaar verloor nie.

Om dit 18 te maak is egter slegs een van Vrydag se doelwitte. Dié onoorwonne status vanjaar maak van die Vikings sterk aanspraakmakers op die Plaat-titel in die SDC Noordvaal Cup.

Vrydag is dit boonop die eerste keer dat die Zwarries, sedert die ontstaan van die destydse Virsekerbeker, deesdae  die SDC Noordvaal Cup, in ‘n halfeindronde betrokke is. Indien hulle dus hul volgende twee wedstryde kan wen, sal hulle die rekordboeke by die skool van Centurion herskryf op meer as een manier.

Die Middies beskik egter oor ‘n gedugte span wat deur die gesoute Coene Nolte en die res van sy afrigtingspan gebrei word. Boonop bestaan die moontlikheid dat van hulle staatmakers kan terugkeer.

Middelburg moes die afgelope ruk sonder agsteman, Hencoe Janse van Renburg, en die woelige CW Hanekom klaarkom. Janse van Rensburg het verlede maand die Pumas se Akademieweek-span in Middelburg aangevoer, terwyl Hanekom ‘n groot verskil kan maak by die afbreekpunte om die Zwarries se balbesit te vertraag.

Die nuus uit die Zwarries se kamp is dat hulle na volsterkte terugkeer. Luan Wepener is terug aan die kant van die skrum, terwyl die goue kombinasie van David van Jaarsveld en Luan Williams in die middeveld herenig word met Van Jaarsveld se terugkeer.

Dit beloof om ‘n reuse-tweestryd met die Middies se binnesenter en kaptein, Lungelo Maseko, met Jaco Truter aan sy buitekant, af te gee. Justin Julies skuif na heelagter, waar hy op sy gevaarlikste is, terwyl Luan Janse van Rensburg terug is op skrumskakel en Brian Smith op agsteman sak.

Indien die Zwarries die wa deur die drif kan trek staan hulle ‘n kans om hul eerste Plaat-titel in te palm, terwyl ‘n moontlike Middelburg-derby weer op die spyskaart is indien die Middies die knoop kan deurhak, en HTS Middelburg vir Hoërskool Klerksdorp in die ander halfeind klop.

Die spanne:

Zwartkop t. Hoërskool Middelburg om 18:45, Vrydagaand, in Centurion

Zwartkop: 15 Justin Julies, 14 André Marx, 13 Luan Williams, 12 David van Jaarsveld, 11 Stiaan Botha, 10 Tilon Baron, 9 Luan Janse van Rensburg, 8 Brian Smith, 7 Luan Wepener, 6 Mikka Allers, 5 Jethro le Roux, 4 Ettienne van Niekerk, 3 Christiaan de Vries, 2 Regan Blignaut, 1 Matthew Smith.

Hoërskool Middelburg (moontlik): 15 Buhle Mphahlaza, 14 Kefilwe Phamotse, 13 Jaco Truter, 12 Lungelo Maseko, 11 Lesego Karale, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Hencoe Janse van Rensburg, 7 Jabu Mathebula, 6 CW Hanekom, 5 Jeandré Potgieter, 4 André Robberts, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Carlo Joubert.

Afskoptye van Junior spanne in Centurion: 

o.16: 17:20 – Hoërskool Middelburg t. Hoërskool Klerksdorp.

o.15: 16:10 – Oos-Moot t. Hoërskool Kempton Park.

o.14: 15:00 – Wesvalia t. HTS Middelburg.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.