Pieties kom van agter om tuishalfeind te verseker


Hoërskool Pietersburg het, soos in die fabel van “Die skilpad en die haas”, met onverbiddelike deursettingvermoë sy pad na die halfeindronde van die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling oopgespeel.
Herleef al die SDC Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
‘n Derde agtereenvolgende bonuspuntsege, die keer oor Hoërskool Die Anker (24-21), het nie alleen vir hom ‘n plek in die uitspeelronde verseker nie, maar beteken voorts dat hy eerskomende naweek tuisveldvoordeel in sy halfeindstryd sal geniet.
Hoërskool Montana se naelskraapse sege van 22-20 oor Hoërskool Lichtenburg het veroorsaak dat die Pieties, vanaf vyfde plek, verby die Liggies kon skuif om nou die tweede posisie te beklee.
Dit was vir die soveelste keer vanjaar die Pieties se dieselenjin wat die grondslag vir ‘n sege gelê het. Dit het nietemin ‘n reusestryd afgegee met Die Anker se groot pak, wat self nie geskroom het om die skote te laat klap nie. Al drie die Pietersburgers se drieë, buiten ‘n strafdrie, is deur lede van die agttal gedruk, met haker, Ziahn Lombaard, wat sy seisoen se drieëtotaal verder verhoog het met nóg ‘n kuier agter die doellyn.
Vir Die Anker het sy voorhoede genoegsame spasie aan die buitekant geskep vir vleuel, Jonathan Jordaan, en buitesenter, Arno Krugel, om netjies af te rond, maar was dit oplaas nie goed genoeg nie, met die Pieties wat teen rustyd reeds met 19-7 voorgeloop het.
Die Monties se tweede sege in Lichtenburg vanjaar beteken dat hulle hul plek bo aan die puntelys behou. Indien hulle eerskomende naweek se halfeindstryd ook kan wen, sal die eindstryd dus tuis in Pretoria plaasvind.
Monties kom in die halfeindronde te staan teen Hoërskool Secunda, wat danksy ‘n bonuspunt, behaal met slegs ‘n minuut oor op die horlosie, in sy nederlaag van 12-17 teen Hoërskool Ben Vorster, verby Heidelberg Volkskool kon skuif op die puntelys.
Vir die Buffels was die oorwinning ‘n gepaste afskeid vir vernaam heelagter, Freddie Pinto, en staatmaker-agsteman, Tumi Ramohlale, wat die Tzaneeners se twee drieë gedruk het. Ramohlale was ongetwyfeld een van die span van Tzaneen se grootste uitblinkers deur die loop van die seisoen.
Puntemakers:
Hoërskool Pietersburg 24 (19) – Drieë: Ziahn Lombaard, Brent Vorster, FC Smith, Strafdrie. Doelskop: Ryno Mienie. Die Anker 21 (7) – Drieë: Branden Sauerman, Jonathan Jordaan, Arno Krugel. Doelskoppe: Edrick Pienaar (3).
Montana 22 (5) – Drieë: Juan Theunissen, Luan Barnard, Rubel Bester, Aiden Vorster. Doelskop: Rubel Bester. Hoërskool Lichtenburg 20 (14).
Ben Vorster 17 (14) – Drieë: Freddie Pinto, Tumi Ramohlale. Doelskoppe: Shelton-Ray Primo (2). Strafdoel: Primo. Hoërskool Secunda 12 (0) – Drieë: Renier Combrink, Sifiso Hlungwane. Doelskop: Alonzo Blackenberg.
Ander spanne:
o.16: Pietersburg 43, Die Anker 14; Montana 28, Lichtenburg 19; Ben Vorster 39, Secunda 12.
o.15: Pietersburg 29, Die Anker 0; Lichtenburg 29, Montana 12; Ben Vorster 36, Secunda 3.
o.14: Pietersburg 27, Die Anker 0; Montana 33, Lichtenburg 5; Ben Vorster 38, Secunda 7.