SuperSport Schools Plus

Witteberg mik vir twee op ‘n streep teen die Trekkers

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-15 Tags: , , , , ,

FOTO: Willie Kruger Fotografie

Daar word Saterdag hoogdrama in die eindstryd van die Griffon-liga in die Downtouch Investments-stadion om 13:50 in Welkom voorspel.

Die Hoërskool Witteberg se eerstespan staan op die drumpel van geskiedenis deur vir die eerste keer as kampioen van dié liga gekroon te word.

Die span wat tussen Witteberg en die stukkie geskiedenis staan is niemand anders as sy aartsvyand, Voortrekker van Bethlehem.

Die Trekkers, is die verdedigende kampioen, en het al drie keer vantevore die titel (2008, 2011 en 2024) verower.

Vroeër vanjaar het Witteberg in die interskole-kragmeting tussen die twee skole die sege in die laaste minuut van die kragmeting beklink toe sy kaptein en flank, Pieter Nel, vir die wendrie oor die doellyn gebars het.

Die sege het ook seker gemaak dat Witteberg vir die eerste keer sedert 1992 daarin slaag om twee jaar in ‘n ry met die Trekkers af te reken.

Nel sal vandag weer ‘n reuse wedstryd moet speel om seker te maak die trofee word aan hom oorhandig. Sy tweestryd met sy direkte teenstander, Jayden de Jesus, sal een van die hoogtepunte van die kragmeting wees.

Witteberg se Cobus Labuschagne (loskopstut), Sedwin Gysman (binnesenter), JC van Rhyn (regervleuel), Rico van Vuuren (haker) en Divan Marais (flank) was almal vroeër vanjaar vir die Griffons in aksie op die Cravenweek vir hoërskole in Middelburg.

Agterlangs is veral Gysman ‘n gevaarman wat met sy dartellopies die Trekkers se verdediging kan ontsluit.

Die Trekkers het self ‘n paar Cravenweek-spelers in sy slotpaar, Berto van Niekerk en Theo van Wyk, in sy geledere.

Witteberg het sy plek in die eindstryd met ‘n sege van 33-18 oor Hoërskool Trio van Kroonstad bespreek. In die ander halfeindstryd moes Voortrekker sweet om vir Welkom Gimnasium met 13-12 uit te oorlê.

Die Griffons se kampioen sal in die halfeindronde van die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga teen die Hoërskool Upington te staan kom. Uppies betree vanjaar die kompetisie as Griekwas se naaswenner.

Die spanne is: 

Witteberg: 15 Qlin Booyse, 14 JC van Rhyn, 13 Adieu Cramford, 12 Sedwin Gysman, 11 Kenyon Morat, 10 Tshepo Motloung, 9 Christiaan de Boer, 8 Daniel Meintjies, 7 Pieter Nel (kaptein), 6 Divan Marais, 5 Jacques Jordaan, 4 Christiaan van Niekerk, 3 Mila Oerson, 2 Rico van Vuuren, 1 Cobus Labuschagne.

Voortrekker: 15 Linda Radebe, 14 Juhin Muller, 13 Sizwe Qwabe, 12 Siya Mdubo, 11 Renier van Niekerk, 10 JC Pretorius, 9 Edré Wille, 8 Lourens Roux, 7 Jayden de Jesus, 6 Wian Muller, 5 Berto van Niekerk, 4 Theo van Wyk, 3 Moropa Lephondo, 2 Wessel Hattingh, 1 AJ Myburgh.

Afskop: 13:50
Skeidsregter: JC Allan

Ander eindstryde: 

11:20 – o.16 – Hoërskool Trio vs Welkom Gimnasium | Skeidsregter: Cassie Heymans
10:10 – o.15 – Voortrekker vs Hoërskool Trio | Skeidsregter: Wynand Fourie
09:00 – o.14 – Voortrekker vs Hoërskool Trio | Skeidsregter: Basie Ferreira

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.