SuperSport Schools Plus

Bloemies maak eerste verskyning in Vrystaat B-liga eindstryde sedert 2003

By Hannes Nienaber , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-15 Tags: , , , , , ,

Die Hoërskool Bloemfontein se eersterugbyspan sal Saterdag sy eerste verskyning in ‘n eindstryd van die Vrystaatse B1-liga maak sedert 2003. Bloemies was wel in 2004 as kampioen van dié liga gekroon, maar daardie jaar was daar nie ‘n eindstryd nie.

Die span sal weet watter reuse taak vandag om 10:20 in die Toyota-stadion in Bloemfontein op hom wag wanneer hy teen St Andrews in die eindstryd te staan kom. Die kragmeting is een van die voorwedstryde vir die Curriebeker-kragmeting tussen die Cheetahs en die Westelike Provinsie.

Saints het sonder twyfel die laaste dekade die span geword om te klop in die Vrystaatse B1-liga. Die skool se eerstespan was sedert 2015 in ses van die agt eindstryde in die tydperk in aksie. In vier van die eindstryde het Saints koning gekraai.

Slegs die wenner van die eindstryd sal vanjaar tot die Kovsiestreekkompetisie se Irawa-liga deurdring. Die span sal volgende week teen die Griekwa-kampioen sake in die halfeindronde van dié reeks moet uitspook.

Die Hoërskool Prieska en De Aar pak mekaar vandag op Suzuki-park in Kimberley in die eindstryd om die Griekwa-kampioen te bepaal.

Bloemies en Saints se spelers het vroeër vanjaar boonop die ruggraat van die Vrystaatse Kiewiete gevorm wat in die eindstryd van die VKB-week naelskraaps met 16-17 vasgeval het. Saints se slot Chris Jordaan en Kamogelo Leshupi (loskopstut) was lede van die span, terwyl nie minder as ses Bloemies in Reitz in aksie was nie.

Die sestal is Wessel van der Merwe (agtsteman), Oratile Maleme (losskakel), Omolemo Taje (skrumskakel), Hlale Motake (buitesenter), Sandile Msimango (binnesenter) en Brandon Erasmus (flank). Msimango sal ongelukkig vir Bloemies nie in die eindstryd in aksie wees nie.

Dit is duidelik dat die eindstryd ‘n stryd tussen Saints se agttal sal wees en die vaart en vaardighede van Bloemies se agterhoede.

Saints het sy plek in die eindstryd met ‘n klinkende sege in die halfeindstryd van 34-7 oor Brandfort bespreek. Hoërskool Bloemfontein het sy plek met ‘n sege in die halfeindronde oor Zastron bespreek.

Die spanne:

St Andrew’s School: 15 Nkhahle Sematlane, 14 Miles Murray, 13 Oliver Ziegler, 12 Naudé Botha, 11 Kaelo Monyaki, 10 Leon Athanasiou, 9 Ruben van Aarde, 8 Raseatla Lepheane, 7 Thato Kalake, 6 Matthew Fletcher (captain), 5 Olin Hirwa, 4 Chris Jordaan, 3 Hloni Mkwane, 2 Lucien Hugo, 1 Kamogelo Leshupi.

Hoërskool Bloemfontein: 15 Karabelo Sebothelo, 14 Jamie Brown, 13 Hlalele Motake, 12 Kenslyn Collins, 11 Prince Conduah, 10 Oratile Maleme, 9 Omolemo Taje, 8 Wessel van der Merwe, 7 Brandon Erasmus, 6 Boitumelo Mohale, 5 Kananelo Mohale, 4 Conwhin Fischer, 3 Sandile Msimango, 2 Themba Tipi, 1 Siya Mathumba.

Afskop: 10:20

Ander eindstryde: 

09:10 – o.15A – Hoërskool Bloemfontein vs Sand du Plessis op Sentraal se B-veld

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.