SuperSport Schools Plus

Bere boelie die Wit Bulle

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-07-27 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Marius Nortjé

Hoërskool Garsfontein het vanjaar doodseker gemaak dat daar geen laat drama in sy kragmeting met Hoërskool Monument sou wees nie.

Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

Die Bere was baas met ‘n wegholsege van 68-17 oor die die besoekers van Krugersdorp, in ‘n drieëfees op Berepark in Pretoria,.

Garsies se skakelpaar het behoorlik baljaar met die voorvoetbal wat hul omgekrapte agttal aan hulle verskaf het. Skrumskakel, Derrick Kuhn, en losskakel, Joshua Gouws, het elkeen twee keer agter die doellyn gaan draai. Boonop was Gouws witwarm met die skopstewel en het hy ál nege die tuisspan se drieë verdoel.

Junaide Stuart, die Bere se regtervleuel, wat binnekort Kaap toe vertrek om vir die SA o.18 span teen Frankryk, Ierland en Engeland diens te doen, het die Bere se derde tweekuns aan drieë vir die dag aangeteken.

In Krugersdorp was daar eers weerlig en toe drama nadat Hoërskool Noordheuwel verwoed teruggeveg het om vir Hoërskool Waterkloof vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar te troef, hierdie keer met 33-27.

Die Blues was na skaars 20 minute reeds met 0-17 agter, met die Klofies se pak wat aanvanklik die septer voorlangs geswaai het. Haker, Ruan Jacobs, het na sy driedruk-gewoontes teruggekeer om eerste oor die doellyn te duik, met mede-voorryman, Jedri Swart, en Codi Binneman wat kort op sy hakke gevolg het.

Weerlig het toe die spanne vir ‘n wyle eers van die veld af gehaal, waartydens daar duidelik hard in die Nories se kringetjie gepraat is. Die Blues het, nadat spel hervat is, binne ‘n oogwink drie drieë ingeryg om sake bykans gelyk te trek, met die woelige losvoorspelerkombinasie van Andrew Lambert en Armand van Eck wat elkeen oorgebars het vir ‘n drie.

Daarna het die Nories na hoogste versnelling oorgeskakel om met ‘n verdere twee drieë die uitklophou te plant vir ‘n belangrike tuissege.

Puntemakers:

Garsfontein 68 (19) – Drieë: Derrick Kuhn (2), Junaide Stuart (2), Joshua Gouws (2), Drewyn Baron, Keagan Knighton, Levi Jordaan. Doelskoppe: Gouws (9). Monument 17 (10) – Drieë: Jordan Swanepoel, Reghard Ernst. Doelskoppe: Jaydon Viljoen (2). Strafdoel: Viljoen.

Noordheuwel 33 – Drieë: Andrew Lambert, Armand van Eck, Brandon Pieters, Clinton Agu, Jeandré Uithaler. Doelskoppe: Uithaler (3), Tidi Moketsani. Waterkloof 27  – Drieë: Ruan Jacobs, Jedri Swart, Codi Binneman. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (3). Strafdoele: Bastiaanse (2).

Ander spanne:

o.16: Monument 32, Garsfontein 26; Waterkloof 30, Noordheuwel 21.

o.15: Garsfontein 17, Monument 12; Noordheuwel 13, Waterkloof 3.

o.14: Garsfontein 24 Monument 20; Noordheuwel 26, Waterkloof 17.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.