Plasies plant groot hou met sege oor Volkies


Merensky Landbou Akademie het ‘n groot hou geplant in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-geveg deur vir Potchefstroom Volkskool in Tzaneen met 28-19 kous oor die kop huis toe te stuur.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Teen rustyd was daar niks te kies tussen die twee spanne nie en is daar aan lemoene gesuig met die telling op 14-14. Die Plasies het egter in die tweede helfte losgtrek en, met die tuisskare wat wind in hul seile blaas, vir die besoekers van Potch met 14-5 getroef in die tweede skof.
Die grondslag is voorlangs gelê deur ‘n Merensky-agttal wat op alle silinders gevuur het, met haker, Marno Nel, en agsteman, Phuki Mphiti, aan die spits van die aanslag. Agterlangs, het losskakel, JD Boshoff, die telbord laat rol met drie strafdoele en twee doelskoppe vir ‘n belangrike bydrae van 13 punte.
Die Volkies se losskakel, Lourenzo Louw, was op sy gevaarlikste en sy kombinasie met binnesenter, River Samuels, het vir die Plasie-verdedigers talle hoofbrekens besorg. Flank en onderkaptein, Marlu du Preez, het vir die tweede agtereenvolgende week ‘n uitstaande vertoning gelewer, met sy hoë werkverrigting en puik verdediging wat nog baie vir die span van Potchefstroom kan beteken.
Ondanks die tientalle beserings wat vir Hoërskool Eldoraigne geteister het, het die Drake steeds beïndruk om vir Hoërskool Randburg met 34-19, in Randburg, te karnuffel. Kaptein, Darren Bruwer, se terugkeer het ‘n duidelike verskil gemaak. Bruwer, normaalweg ‘n skrumskakel, het vandeesweek spel meesterlik dikteer op losskakel, en self ook agter die Randburgers se doellyn gaan kuier.
Voorlangs het die stryd tussen die twee agstemanne behoorlik gewoed, met die Eldos se Juawan Pieterse wat oral opgeduik het om die bal met mening op te vat, terwyl Randburg se Curwin Hill ewe dinamies op die aanval vertoon het.
Potchefstroom Gimnasium se haker, Kobus Grobelaar, het twee keer gedruk in sy span se oortuigende wegsege van 39-13 oor Hoërskool Jeugland in Kempton Park. Die verdedigende kampioen is steeds onoorwonne in vanjaar se reeks, insluitende ‘n vroeëre gelykopuitslag teen Hoërskool Randburg. Boonop was drie van Gimmies se laaste vier wedstryde weg van die huis en sal hulle eerskomende Saterdag se tuiswedstryd teen Merensky verwelkom met die oog daarop om hul greep op die Bowl verder te versterk.
Nico Greyling, Hoërskool Dinamika se regtervleuel, het met slegs ‘n minuut oor oorgeduik om vir die span van Alberton met 26-22 die pyp te laat rook teen Hoërskool Ermelo. Al vier die tuisspan se drieë is deur agterspelers gedruk.
Ermelo se heelagter, WJ Pretorius, was nietemin ‘n doring in Dinamika se vlees met sy geoefende skopvoet wat die tuisspan dikwels laat omdraai het om die druk te verplaas.
Puntemakers:
Merensky 28 (14) – Drieë: Marno Nel, Phuki Mphiti, Henru Venter. Doelskoppe: JD Boshoff (2). Strafdoele: Boshoff (3). Potchefstroom Volkskool 19 (14) – Drieë: River Samuel, Marlu du Preez, Lourenzo Louw. Doelskoppe: Juhan Geldenhuys (2).
Eldoraigne 34 (19) – Drieë: Hugo Theron, Darren Bruwer, Wian White, Juawan Pieterse, JG Engelbrecht. Doelskoppe: Damian Elferink (3). Strafdoel: Elferink. Hoërskool Randburg 19 (7) – Drieë: Curwin Hill, Michael Payne, Jayden Brown. Doelskoppe: Jayden Todd (2).
Potchefstroom Gimnasium 39 – Drieë: Kobus Grobelaar (2), Itumeleng Pheto, Matthew Redelinghuys, Zach de Jager, Rynel Rautenbach. Doelskoppe: Zandré Da Silva (3). Strafdoel: Da Silva. Jeugland 19.
Dinamika 26 (14) – Drieë: Shane Serfontein, Caiden van der Merwe, Nathan Kearns, Nico Greyling. Doelskoppe: Caiden van der Merwe (3). Hoërskool Ermelo 22 (12) – TBC.
Ander spanne:
o.16: Merensky 27, Potchefstroom Volkskool 23; Eldoraigne 12, Randburg 6; Potchefstroom Gimnasium 24, Jeugland 0; Dinamika 22, Ermelo 15.
o.15: Potchefstroom Volkskool 18, Merensky 12; Eldoraigne 18, Randburg 12; Jeugland 16, Potchefstroom Gimnasium 14; Dinamika 15, Ermelo 12.
o.14: Merensky 19, Potchefstroom Volkskool 15; Randburg 38, Eldoraigne 5; Jeugland 39, Potchefstroom Gimnasium 17; Dinamika 22, Ermelo 15.