Kruger-driekuns maak dit 3 uit 3 vir Valia


Hoërskool Transvalia het sy stormloop in sy eerste seisoen as deel van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling voortgesit met ‘n derde agtereenvolgende sege.
Herleef al die Beker aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Hoërskool Menlopark was die span van Vanderbijlpark se derde slagoffer in vanjaar se reeks nadat Valia hom, op sy tuisveld in Pretoria, met 47-27 boonop uit die pad gevee het.
Saterdag se vertoning het vir breier, Lloyd Greeff, skoon sprakeloos gelaat.
“Hoe sonder ‘n mens iemand onder so spesiale groep seuns uit,” het Greeff na afloop van sy span se spogsege in die Jakarandastad gesê.
Valia se intensiteit en fisiekheid was van meet af aan in ‘n ander liga. Sy rotsvaste verdediging het die Parkies bykans geen deurkomkans gegee nie en die tuisspan deurentyd agter die voordeellyn vasgepen om die druk vierkant op hulle te hou.
Haker, Wihandré Kruger, was vir die tweede agtereenvolgende week ‘n reuse bedreiging agter Valia se haas onstuitbare dryfmaalbewegings, wat aan hom ‘n welverdiende driekuns aan drieë besorg het. Die Parkies het self hul dryfmale aan die gang gekry vir haker, Declan Pelser, om ook vir twee drieë oor te bars.
Valia-losskakel, Jay-Dee Maree het ‘n meesterklas in taktiese skopwerk gelewer, terwyl sy korrelwerk pale toe ook uit die boonste rakke was. Maree het vyf doelskoppe, drie strafdoele en ‘n skepdoel deur die mikke gejaag vir ‘n persoonlike bydrae van 21 punte.
Die stryd tussen Hoërskool Noordheuwel en Hoërskool Dr EG Jansen het gesamentlik ‘n allemintige 100 punte opgelewer. Die Blues het uiteindelik met 55-45 die pyp gerook in ‘n kragmeting waar verdediging nie noodwendig hoogste prioriteit geniet het nie.
Albei spanne het uitmuntende hardlooprugby opgedis, wat die Arende-afrigter, Rudi Dames, genoop het om die vertoning uit te sonder as een van die drie beste wedstryde waarby hy, sedert die begin van sy betrokkenheid by skolerugby, betrokke was.
Die Blues se blits, Aidan Bester, het die doellyn oorgesteek vir ‘n driekuns, waarvan die derde die beslissende drie in Boksburg was. Op losskakel het Pablo Moeketsane die toutjies vernuftig getrek om Bester en die res van die agterlyn dikwels en dodelik op die voorvoet te plaas.
Jeandré Uithaler was oudergewoonte venynig op heelagter wanneer hy aansluiting by die lyn gevind het, terwyl sy skopskoen ewe giftig was. Uithaler was in die kol met ses doelskoppe en ‘n strafdoel.
Vir die tuisspan het sy agterste driehoek, onder leiding van Deshean Pietersen, vir die soveelste keer uitgeblink, asook die skakelpaar van Jospeh Diesel en Dian Botha. Diesel is met ‘n vyfpunter beloon, terwyl Botha, nes Uithaler, suksesvol was met ses doelskoppe en ‘n strafdoel.
Hoërskool Garsfontein moes hard werk om vir Hoërskool Nelspruit op Bere Park met 32-20 te verslaan. Die Rhinos het die Bere se momentum dikwels ontwrig met hul effektiewe opskietverdediging en 70 minute se fisieke aanslag.
Vir die verdedigende kampioen het agsteman, Stefan van der Vyver, twee keer oorgeduik het, terwyl die Garsies se agterlyn met rukke en stote soos die gevaar van ouds vertoon het. Die Nellies se slot, André Smit, het sy pond vleis tafel toe gebring en is besig om hom te vestig as ‘n prominente figuur in die Nelspruit-pak met sy hoë werkverrigting.
Puntemakers:
Transvalia 47 (23) – Drieë: Wihandré Kruger (3), Johan Smit, Jonathan Roets. Doelskoppe: Jay-Dee Maree (5). Strafdoele: Maree (3). Skepskop: Maree. Menlopark 27 (10) – Drieë: Declan Pelser (2), Andru Keun, Bladen Peterson, Lucian Reid. Doelskop: Keun.
Noordheuwel 55 (24) – Drieë: Aidan Bester (3), Clinton Agu, Armand van Eck, Jeandré Uithaler, Kieran Reid, Skuttie Bezuidenhout. Doelskoppe: Uithaler (6). Strafdoel: Uithaler. EG Jansen 45 (28) – Drieë: Deshean Pietersen, Otlatleng Zulu, Joseph Diesel, Craig Lightfoot, Marco Ventura. Doelskoppe: Dian Botha (6). Strafdoel: Botha.
Garsfontein 32 (22) – Drieë: Stefan van der Vyver (2), Justin Blom, Lourenz de Jager, Junaide Stuart, Junade Pasensie. Doelskop: Derrick Kuhn. Hoërskool Nelspruit 20 (8) – Drieë: Jean Erasmus, André Smit, Rian Botha. Doelskop: John Duncan. Strafdoel: Liam Pringle.
Ander spanne:
o.16: Menlopark 36, Transvalia 14; Noordheuwel 24, EG Jansen 12; Garsfontein 71, Nelspruit 10.
o.15: Menlopark 27, Transvalia 22; EG Jansen 38, Noordheuwel 21; Garsfontein 42, Nelspruit 12.
o.14: Menlopark 31, Transvalia 20; Noordheuwel 31, EG Jansen 7; Garsfontein 81, Nelspruit 14.