SuperSport Schools Plus

Vryburg bult spiere in eerste ronde van Pukke 16-reeks

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-03-01 Tags: , , ,

NWUPukkeRudie de Villiers, senter van Pretoria-Noord, het sy 2017-seisoen op die beste moontlike noot begin deur ‘n driekuns aan drieë in sy span se oorwinning van 27-14 oor Stoffberg van Brakpan in die eerste ronde van die NWU-Pukke 16-reeks te behaal. Pretoria-Noord se eerstes het verlede jaar vierde in die kompetisie geëindig.

Die res van Pretoria-Noord se punte is deur sy losskakel, Duard Steyn, met die skopvoet aangeteken. 

Fochville se eerste rugbyspan, wat verlede jaar derde in die reeks geeindig het, het sy aanslag in vanjaar se kompetisie met ‘n goeie sege van 34-0 oor Schoonspruit van Klerksdorp afgeskop. Die span se ster was sy agtsteman, Paul Cilliers, wat twee van sy kraglopies agter die doellyn gaan afrond het. 

Die span se heelagter, Jaco Pretorius, het ook sy skopskoene aangehad. Hy het al vier sy span se driee verdoel asook twee strafdoele tussen deur die pale gejaag. 

Vryburg wat die verdedigende kampioen is, het sy aanslag om sy titel te behou met ‘n oortuigende oorwinning van 59-8 oor Wolmaransstad afgeskop. Die wenspan se agtsteman, Ryan Erasmus, was sonder twyfel sy span se beste speler op die dag. Erasmus het boonop die doellyn twee keer oorgesteek. 

Die verdedigende kampioen se losskakel, Leonard Grobbelaar, het 19 punte tot die oorwinning bygedra deur een van sy span se nege drieë te druk, terwyl hy sewe van die drieë vervyf het.

Pionier moes hard werk om Volksrust op laasgenoemde se tuisveld met 18-12 te troef. Volksrust se haker, Andre Truter, het ‘n rooikaart gekry na ‘n vuishou en sy span moes die wedstryde met 14 spelers klaarmaak. Pionier se kaptein en senter, Jacques Lindeque, het een van sy span se drie drieë gedruk. 

Delmas het Oosterland van Secunda met 33-0 die loef afgesteek.

Die wedstryde tussen Piet Retief en Ferrum is tot 16 Maart uitgestel as gevolg van die hewige reen verlede week. Overvaal en Leeuwenhoff sal om dieselfde rede ook eers op 16 Maart sake uitspook. Die enigste ander eerste ronde wedstryde wat nog nie plaasgevind het nie was die tussen Bekker van Magaliesburg en Alberton High. Die twee skole sal nog ooreenkom wanneer die wedstryde gespeel sal word. 

Puntemakers: 

Vryburg 59 – Drieë: Ryan Erasmus (2), Kobus Vermaak, Heinrich Jankowitz, Ridley Krieger, Chris Cloete, Leonard Grobbelaar, Ryno Pienaar, Andre Engelbrecht. Doelskoppe: Grobbelaar (7). Wolmaransstad 8 – Drie: Phillip Young. Strafdoel: Johnré van Wyk.

Pretoria-Noord 27 – Drieë: Rudie de Villiers (3). Doelskoppe: Duard Steyn (3). Strafdoele: Steyn (2). Stoffberg 14

Fochville 34 – Drieë: Paul Cilliers (2), Anroux Steenkamp, Jaco Vemas. Doelskoppe: Jaco Pretorius (4). Strafdoele: Pretorius (2). Schoonspruit 0

Pionier 18 – Drieë: Jacques Lindeque, Klopper Opperman, Marne Craythorne. Strafdoel: Christiaan Zietsman. Volksrust 12 – Strafdoele: Tiaan Els (4). 

Ander spanne: 

o.16: Pionier 32, Volksrust 12; Schoonspruit 24, Fochville 22; Pretoria-Noord 38, Stoffberg 3; Oosterland 41, Delmas 0; Wolmaransstad 20, Vryburg 6.

o.15: Volksrust 36, Pionier 10; Fochville 53, Schoonspruit 5; Pretoria-Noord 17, Stoffberg 12; Oosterland 17, Delmas 0; Vryburg 29, Wolmaransstad 0. 

o.14: Volksrust 33, Pionier 0; Fochville 25, Schoonspruit 5; Stoffberg 27, Pretoria-Noord 0; Oosterland 27, Delmas 5; Vryburg 59, Wolmaransstad 0.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.