SuperSport Schools Plus

Hanekom, Abbey verf Middelburg groen

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-18 Tags: , , , , , , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Die vonke het, soos verwag, gespat in Saterdag se jaarlikse Middelburg-derby, wat ook Hoërskool Middelburg en Hoër Tegniese Skool Middelburg se eerste ontmoeting was in die Plaat-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Dit was uiteindelik Middies wat daarin kon slaag om die bordjies te verhang, op die Rooi Bulle se tuisveld, met ‘n swaarverdiende sege van 16-11.

In aanloop tot dié reuse stryd, is daar bespiegel oor die strawwe stryd wat voorlangs sou woed en dit was dan ook so. Die skote, en duikslae, het verwoed geklap tussen die voorspelers.

Die Middies se staatmaker-flank, CW Hanekom, het die eerste deurbraak bewerkstellig, toe hy vanaf ‘n dryfmaal losgebreek en, eers links, toe regs, soos ‘n wafferse senter geswenk het om sy span se eerste en enigste drie te druk.

Old School

Hanekom se verdediging en dinamiese teenwoordigheid by die afbreekpunte het voorts bygedra daartoe dat hy as die Speler van die Wedstryd aangewys is.

Die skopstryd het uiteindelik egter ‘n deurslaggewende rol gespeel. Die Middies se losskakel, Matthew Abbey, was op sy stukke, met ‘n doelskop en drie strafdoele wat aan die Middies 11 waardevolle punte besorg het, terwyl die Rooi Bulle se WJ Enslin met twee strafdoele geslaag het.

HTS Middelburg se agsteman, Tercius Bezuidenhout, het met sy terugkeer ‘n beduidende verskil gemaak. Sy fisiekheid en hoë werkverrigting kan vir die Rooi Bulle nog goud werd wees in die verdediging van hul Plaat-titel.

Hoërskool Marais Viljoen se heelagter, Raynhardt Kruger, het die span van Alberton gehelp om vir Hoërskool Kempton Park met 30-20 in Kempton Park te troef. Kruger was in die kol met ál ses sy pogings pale toe, en met dié drie doelskoppe en drie strafdoele het hy die helfte van sy span se punte aangeteken.

Voorlangs het die besoekers se losvoorspelers die vuur onder die res van die pak gestook. Agsteman, Rio Tshimbalanga, was vir die soveelste keer ‘n konstante gevaar met die bal in hand, terwyl sy flankmaat, Lloyd Shoko-Schenk, in die vas en die los uiters bedrywig was.

Henco Greyling, Hoërskool Wesvalia se heelagter, het twee keer deurgedartel om Wessies aan te spoor tot ‘n sege van 32-19 oor Ligbron Akademie.

Dit was welliswaar nie die Wessies van ouds nie, maar dit was te verstane na ‘n taai derby teen Hoërskool Klerksdorp die vorige naweek, asook die laaste ronde van die Luiperds-proewe wat Dinsdag plaasgevind het. Die besoekers van Ermelo het boonop na ‘n totaal ander span daar uitgesien in die tweede 35 minute, waartydens hulle 19 punte aangeteken het.

Puntemakers: 

Hoërskool Middelburg 16 (13) – Drie: CW Hanekom. Doelskop: Matthew Abbey. Strafdoele: Abbey (3). HTS Middelburg 11 (3) – Drie: Tercius Bezuidenhout. Strafdoele: WJ Enslin (2).

Marais Viljoen 30 (20) – Drieë: Lloyd Shoko-Schenk, Ethan Weideman, Jonno Morkol. Doelskoppe: Raynhardt Kruger (3). Strafdoele: Kruger (3). Hoërskool Kempton Park 23 (13) – Drieë: Wian Riekert, Strafdrie. Doelskop: Stian de Villiers. Strafdoele: De Villiers (3).

Wesvalia 32 (10) – Drieë: Henco Greyling (2), Martin Bierman, Fafa Calitz. Doelskoppe: Eduard Dreyer (3). Strafdoele: Dreyer (2). Ligbron Akademie 19 (0). 

Ander spanne: 

o.16: Hoërskool Middelburg 50, HTS Middelburg 6; Kempton Park 20, Marais Viljoen 10; Wesvalia 36, Ligbron Akademie 36.

o.15: Hoërskool Middelburg 19, HTS Middelburg 7; Kempton Park 31, Marais Viljoen 11; Wesvalia 12, Ligbron Akademie 0.

o.14: Hoërskool Middelburg 31, HTS Middelburg 14; Kempton Park 12, Marais Viljoen 6; Wesvalia 33, Ligbron Akademie 3.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.