SuperSport Schools Plus

Blignaut druk 4 keer vir Zwarries in wegholsege oor Eldos

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-18 Tags: , , , ,

FOTO: Marius Nortjé.

Dit gebeur nie aldag dat ‘n speler vier keer agter die opposisie se doellyn gaan kuier nie. Vir ‘n voorryman om dit te vermag, is selfs raarder.

Dit is presies hoe Hoërskool Zwartkop se haker, Regan Blignaut, Saterdag vir Hoërskool Eldoraigne gekasty het in die Zwarries se wegholsege van 59-10 in Saterdag se derby in Centurion.

Blignaut het nie alleen vier drieë gedruk nie, maar was ook ‘n algemene uitblinker regoor die Drake se tuisveld. Daarmee het hy die pas aangegee vir sy pak om vanuit die staanspoor die oorhand voorlangs te bewerkstellig en dodelike fases op te sit.

Dit het vir losskakel, Tilon Baron, en die Zwarries se giftige agterlyn oombliklik op die voorvoet geplaas sodat hulle, soos afrigter, David Gouws, beoog het, die Eldos kon looi agterlangs. Baron se verspreiding was uit die boonste rakke en het die nodige aanvalshoeke vir buitesenter, Luan Williams, geskep om self oor te wals vir ‘n tweekuns aan drieë.

Dit was die Zwarries se 11de agtereenvolgende sege vanjaar en die derde keer na mekaar wat hulle meer as 50 punte op die telbord kon sit. Dit het hul totale puntestand vir 2025 opgejaag na 498, terwyl hulle slegs 143 punte in dié 11 wedstryde afgestaan het.

Old School

Ten spyte van die oormag, het die tuisspan se flanke, Cameron Killian en Justin Meintjies, steeds daarin geslaag om uit te blink. Killian, wat ook ingestaan het as kaptein vir skrumskakel, Darren Bruwer, het weereens gewoeker en, met Meintjies, moedig probeer om die Zarries te stuit, maar helaas tevergeefs.

Agterlangs het linkervleuel, Hanno Jacobs, ook hand opgesteek en die Eldos se beste stukkie aanvalswerk met die tuisspan se enigste drie afgerond.

Die Zwarries kom volgende teen Hoërskool Kempton Park te staan, terwyl die Eldos na Rustenburg reis om met Bergsig Akademie swaarde te kruis.

Puntemakers: 

Zwartkop 59 (26) – Drieë: Regan Blignaut (4), Luan Williams (2), Ettienne van Noekerk, Tilon Baron, David van Jaarsveld. Doelskoppe: Baron (7). Eldoraigne 10 (3) – Drie: Hanno Jacobs. Doelskop: Tsepang Motsomane. Strafdoel: Motsomane.

Ander spanne: 

o.16: Zwartkop 24, Eldoraigne 15.

o.15: Zwartkop 17, Eldoraigne 7.

o.14: Zwartkop 29, Eldoraigne 3.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.