Polokwane kom tot stilstand vir jaarlikse Bosveld Interskole-stryd

Die Bosveld Interskole, voorheen die Bosveld Intervarsity, is sedert 1977 ‘n rooiletterdag op rugbyliefhebbers in die hoofstad van Limpopo, Polokwane, se rugbykalender.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit is ‘n jaarlikse instelling wat die ganse stad tot stilstand bring en vanjaar se groot stryd tussen Hoërskool Pietersburg en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé behoort Saterdag, op die Pieties se veld, weer ‘n aksiebelaaide skouspel op te lewer.
Sedert die hervatting van dié dag, in 2016, het Pieties die botoon gevoer. Die afgelope twee jaar alleen het Saterdag se tuisspan met 54-3 (2024) en 43-7 (2023) die septer geswaai.
Vroeër jare het die Tiere egter die hef in die hand gehad. Van 1977 tot 1997 het die spanne 27 keer ontmoet, met Tom Naudé wat 14 keer baas was teenoor die Pieties se 11 oorwinnings, terwyl twee kragmetings gelykop geëindig het.
Die Tiere is vanjaar weer netjies op dreef met ‘n onlangse oorwinning van 29-15 oor Hoërskool Ellisras, en behoort oorgehaal te wees om Saterdag die bordjies oplaas te verhang. Dit sal nietemin steeds ‘n tamaaie poging verg om vir PHS op sy tuisveld te troef.
Die Pieties het oor die jare gewys dat hulle ‘n perd van ‘n ander kleur is met die tuisskare wat hulle luidkeels aanspoor en hulle het onlangs opnuut lekker momentum gebou. Hulle spog nie verniet met nege spelers in die Limpopo Blou Bulle se Cravenweekgroep nie.
Heelagter, Ryno Mienie, is een van dié nege en hou groot gevaar in vir die Tiere. Hy is nie alleen goed op dreef met die skopstewel nie, maar kan ook die verdediging aan flarde ruk as hy op loop sit met die bal. Mienie en Tom Naudé se Tshenello Nwkana behoort altwee vir opwindende hardlooprugby te sorg.
Nwkana, wat in die Limpopo Bulle se oefengroep ingesluit is as heelagter, sal Saterdag egter op loskakel vir die Tiere diens doen en het die taak om vir buitsenter, Fortune Sehlabane, op die voervoet te plaas in sy tweestryd in die middeveld met Siya Mahlangu.
Hoewel albei spanne oor gevaarlike agterlyne beskik, sal die platform steeds voor gelê moet word. In die opsig, sal PHS hewig staatmaak op sy woelige haker, Ziahn Lombaard, wat met sy Tommies-eweknie, Khatu Sikhetha, die pap dik sal aanmaak. Agsteman, Ludke Pienaar, en vaskopstut, Stephan Jansen van Rensburg, is ook sleutelfigure in die Pieties se pak.
Die spanne:
Hoërskool Pietersburg t. Hoër Tegniese Skool Tom Naudé om 13:45 in Polokwane:
Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Armand Venter, 13 Basson Wolmarans, 12 Siya Mahlangu, 11 Keanu Potgieter, 10 Juan Randall, 9 Celliers van der Merwe, 9 Ludke Pienaar, 7 Juan Jansen van Vuuren, 6 FC Smith, 5 Henco Venter, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg, 2 Ziahn Lombaard, 1 Krissie Swanepoel.
Tom Naudé: 15 Mokibelo Matlhabaseletsi, 14 Lebogang Aphane, 13 Fortune Sehlabane, 12 Mahlatse Kekana, 11 Elvis Monokoane, 10 Tshenello Nkwana, 9 Lu-hann Pieterse, 8 Druan Venter, 7 Jayden Viljoen, 6 Kamogelo Molepo, 5 Tiaan Bezuidenhout, 4 Dean Viljoen, 3 Tiaan Russouw, 2 Khatu Sikhetha, 1 Jayden Lewis.
Ander spanne:
11:10 – o.16
10:00 – Tweede span
09:00 – o.15
08:00 – o.14.