SuperSport Schools Plus

Groot opgewondenheid in Centurion oor jaarlikse derby

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-15 Tags: , , , ,

Die Eldos op die aanval in verlede jaar se derby. FOTO: Brian Callaghan.

Hoërskool Zwartkop is oorgehaal om dit Saterdag twee uit twee te maak teen Hoërskool Eldoraigne op Eldos se tuisveld.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Dié derby het oor die jare ‘n taamlike armdruk tussen die Zwarries en Drake afgegee, met ‘n paar onvergeetlike oomblikke, soos in 2012, toe die Zwarries ‘n droogte van vyf jaar teen die Eldos beëindig het, met ‘n strafdoel in die doodsnikke. Die Drake het egter net die volgende jaar teruggeslaan met ‘n wegholsege van 85-0.

Die mededinging tussen die twee spanne van Centurion was die afgelope paar jaar meer gelykop. Zwartkop het die laaste hou geland deur verlede jaar, op tuisbodem, met 22-16 te seëvier, maar in 2023 het die Drake met 23-19 die pyp gerook. Dit is egter geen geheim dat Zwarries hierdie Saterdag se groot stryd as gunsteling betree nie.

Die besoekers se jong span, bestaande uit 11 Graad 11’s en vier Matrieks, geniet tot dusver nog ‘n oorwonne seisoen, terwyl die Eldos, alhoewel teen sterker opposisie, gemengde welslae behaal het. Hulle behoort nietemin steeds, volgens tendens, moeilik tuis getem word, soos wat die geval onlangs was teen Hoërskool Jeugland in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling.

Old School

Hulle moes verwoed terugveg met 22 punte in die laaste 10 minute om die span van Kempton Park te troef, maar dié sege het teen ‘n prys gekom. Die beseringspook het by die Drake kom draai, met skrumskakel en kaptein, Darren Bruwer, wat onbeskikbaar is vir die stryd teen Zwartkop.

Binnesenter, Kevin Earle, is ook buite aksie en word deur Ethan Beyers vervang, met Damian Elferink wat van losskakel na skrumskakel skuif in die plek van Bruwer en Tsepang Motsomane wat Elferink se plek in die nr 10-trui inneem.

“Hoewel ons ‘n paar beserings in sleutelposisies opgedoen het, bestaan daar geen twyfel dat dié span steeds oor die nodige skietgoed beskik om die wa deur die drif te trek nie,” het Deon Anderson, die baasbrein agter die Eldos se agterlyn, gesê.

“Die terugvegpoging teen Jeugland verlede naweek het die selfvetroue opgejaag. Boonop speel ons tuis, wat ‘n rapsie ekstra motivering bied.”

Zwartkop, daarenteen, verwelkom twee van sy groot kanonne terug. Die span se twee voorste driedrukkers, Luan Issacks, en Zulu Mona, keer op net die regte tyd terug, maar albei speel vanaf die plaasvervangerbank.

David Gouws, die Zwarries se hoofafriger, het stil en beskeie gesê dat hy nóg ‘n titaniese stryd verwag.

“Enige derby tussen ons twee skole is taai, en boonop geniet hulle tuisveldvoordeel. Maar, soos almal weet, die rugbybal is nie rond nie en kan enige kant toe spring.

“Ons fokus daarop om so vinnig as moontlik in struktuur te kom en fases af te dwing. Hierdie is ‘n jong span, maar het reeds gewys dat hulle, wanneer dit saak maak, hul beste kan lewer.”

Indien die Eldos kan voortbou op die laaste 10 minute van verlede week én die Zwarries hul aanskoulike hardlooprugby kan voortsit, kan Centurion hom regskuif vir 70 minute van aksiebelaaide vermaak.

Die spanne: 

Eldoraigne t. Zwartkop om 13:45 in Centurion: 

Eldoraigne: 15 Manie Buitendag, 14 Tristan Lee, 13 Hugo Theron, 12 Ethan Beyers, 11 Hanno Jacobs, 10 Tsepang Motsomane, 9 Damian Elferink, 8 Esdee Kotze, 7 Justin Meintjies, 6 Cameron Killian, 5 MC Scheepers, 4 Juawan Pieterse, 3 Chase Wessels, 2 Jean de Villiers, 1 Wian White.

Zwartkop: 15 Shayden Botha, 14 André Marx, 13 Luan Williams, 12 David van Jaarsveld, 11 Stiaan Botha, 10 Tilon Baron, 9 Luan Janse van Rensburg, 8 Wihan Roux, 7 Luan Wepener, 6 Brian Smith, 5 Jethro le Roux, 4 Ettienne van Niekerk, 3 AJ Hendriks, 2 Regan Blignaut, 1 Christiaan de Vries.

Ander spanne: 

12:10 – o.16
11:00 – Tweede span
10:00 – o.15
09:00 – Derde span
08:00 – o.14.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.