Nuwe borg, deelnemers dra by tot opwinding van Robday Bergsig-fees

Die opwinding in afwagting vir die jaarlikse rugby-aksie by Bergsig Akademie, wat op Donderdag, 1 Mei, afskop, is tasbaar.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Vanjaar se fees kry ook ‘n nuwe lagie verf danksy ‘n spinternuwe hoofborg. Dié fees sal voortaan as die Robday Bergsig-sportfees bekend staan.
Benewens ou bekendes wat terugkeer, is daar ook ‘n aantal nuwe spanne wat vir die eerste keer vanjaar in Rustenburg in aksie sal wees.
Hoërskool Witteberg van Bethlehem is een van die nuwe gesigte by vanjaar se aksiebelaaide fees en bring ‘n mate van Vrystaatse flair. Hoërskool Frikkie Meyer en Hoërskool Randburg sal albei hul storie teen dié gedugte span van die Vrystaat moet ken, met die Frikkies, wat vanjaar terugkeer, die span van Bethlehem se eerste opponente.
Die Randburgers keer ook terug om hul staal oor die twee te wys en maak op die eerste dag litte los teen Afrikaanse Hoër Seunskool se derde span, die Rooiharte, voordat hulle vir Witteberg op dag twee die stryd aansê. Affies het oudergewoonte weer twee spanne wat na Rustenburg reis, met die Geel Kobras, hul vierde span, wat ook in aksie sal wees.
Gashere, Bergsig Akademie, se tweede span, beter bekend as die Bergsig Valke, is die enigste plaaslike span in aksie op die eerste dag. Dit sal egter die tafel dek vir Bergsig se eerstes, die Arende, en hul jaarlikse stryd Saterdag met Hoërskool Rob Ferreira van Witrivier.
Dié kragmeting beloof oudergewoonte, nes verlede jaar se stryd, met die Arende wat in die doodsnikke die knoop kon deurhak, om vuurwerke op te lewer en is ongetwyfeld die hoogtepunt van die tweede en laaste dag. Rob Ferreira kom in sy eerste wedstryd te staan teen Hoërskool Overkruin, wat ook nie sonder handskoene aangedurf behoort te word nie.
Bepalings:
Dag 1 – Donderdag, 1 Mei:
09:10 – Bergsig Hawks t. Hoërskool Koster
11:20 – Jim Fouché t. Dinamika
12:40 – Overkruin t. Rob Ferreira
14:00 – Hoërskool Rustenburg Oranje t. Hans Moore
15:20 – Randburg t. Affies (Rooiharte)
16:40 – Affies (Affies Geel Kobras) t. Bergsig Eagles
18:00 – Frikkie Meyer t. Witteberg
Dag 2 – Saterdag, 3 Mei:
08:00 – Hans Moore t. Jim Fouché
09:20 – Randburg t. Witteberg
10:40 – Affies (Rooiharte) t. Dinamika
11:00 – Hoërskool Rustenburg Oranje t. Affies
12:20 – Linden t. Bergsig Hawks
13:40 – Overkruin t. Frikkie Meyer
15:00 – Bergsig Eagles t. Rob Ferreira