SuperSport Schools Plus

Paarl Gimnasium besoek die Rosestad die eerste keer in 20 jaar vir titaniese tweestryd

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-04-25 Tags: , , , , ,

Paarl Gimnasium sal Saterdag vir die eerste keer sedert 2005 in Bloemfontein in aksie wees.

Die Gimmies was laas in die Rosestad met Grey-kollege se 150ste bestaansvieringe in aksie. Grey was destyds in die kragmeting tussen die twee eerstespanne met 34-13 baas.

Vanjaar se kragmeting is deel van die King Price Derby Series. Volg al die aksie op SuperSport Schools (www.supersportschools.com) asook op DStv kanaal 216 en SABC Plus.

Die wedstryd skop om 14:00 af.

Die span van die Paarl sal daarvan bewus wees dat Grey-kollege nie sommer op sy tuisveld geklop word nie. Grey se laaste nederlaag op sy tuisveld was in 2017 teen die Hoër Jongenskool Paarl toe die besoekers met 46-31 na ‘n skittervertoning van sy losskakel, Abner van Reenen.

Old School

Dit beteken dat Grey teen Saterdag met ‘n onoorwonne rekord op sy tuisveld vir die afgelope 2,905 dae spog. Om dié feit meer konteks te gee die Leeus se seniorspan se kaptein en agtsteman, Francke Horn, het daardie dag ook vir Boishaai aangevoer.

Almal weet teen hierdie tyd dat daar ‘n hewige tweestryd in die middelveld Saterdag tussen Ethan “The Tank” Adams (Grey-kollege) en Markus Muller (Paarl Gimnasium) wag.

Adams behoort vanjaar die eerste speler sedert Moekoa Bolofo (HTS Louis Botha, 2005-07) te word om vir drie jaar agtereenvolgens die Vrystaat op die Cravenweek te verteenwoordig. Adams is na afloop van die Grant Khomo-week van 2023 na ‘n besering deur die Vrystaatse Cravenweek-keurders nadergetrek.

Adams was dus op die Cravenweek in aksie nog voor hy vir een van Grey se seniorspanne (o.19) gespeel het. Hy het die Vrystaat tot in die hoofwedstryd van die Grant Khomo-week gehelp. Muller was tydens daardie Grant Khomo-week die voorste puntemaker met 35 punte.

Soos met enige groot veldslag word die uitslag in die loopgrawe bepaal. Grey se agttal vir Saterdag is dalk die gedugste wat sy afrigter, Jannie Geldenhuys, nog vanjaar in die veld gestoot het. Die SA Skole-slot AJ Meyer sal vir die eerste keer vanjaar in die beginspan in aksie na ‘n besering wees.

Meyer het wel al speelkans in sy span se oorwinning van 29-18 oor Outeniqua in George. Geldenhuys het ook die flank en kaptein, Xander Smit, na haker vir die kragmeting verskuif. Dit het die deur oopgemaak om AJ Booysen, Alexi Tyropolis en Adem Nieuwoudt saam as lostrio te kies.

Grey se spankeuse verklap ook dat hy ‘n strawwe tweestryd verwag. Op losskakel sal Darius Erwee die eerste keer sedert die kragmeting teen Welkom Gimnasium die nr.10-trui dra.

Paarl Gimnasium is soos Grey steeds onoorwonne vanjaar. Gimmies het wel in sy vorige kragmeting teen die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria met 16-elk gelykop gespeel.

Die spanne is:

Grey College: 15 Lamla Mgedezi, 14 Benjamin van den Berg, 13 Ethan Adams, 12 Toriq Schambreel, 11 Siyabonga Kenny, 10 Darius Erwee, 9 Sherwin Buys, 8 AJ Booysen, 7 Alexi Tyropolis, 6 Adem Nieuwoudt, 5 AJ Meyer, 4 Claude Steyn, 3 JG Badenhorst, 2 Xander Smit (kaptein), 1 David Hayidakis.

Paarl Gimnasium: 15 Dawid Badenhorst, 14 Johan Kleynhans, 13 Markus Muller (kaptein), 12 Ethan Barker, 11 Thomas Saunders, 10 Divan Pieters, 9 Mickyle Booise, 8 Quintin Potgieter, 7 Hendré van Zyl, 6 Hendré van der Westhuizen, 5 Jean Dreyer, 4 Migael Turner, 3 Adriaan van der Lingen, 2 Charles Whitehead, 1 Pieta Cilliers.

Skeidsregter: DJ Hefer
Afskop: 14:00

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.