SuperSport Schools Plus

Vonke verwag in herontmoeting tussen Middies en Buffels

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-04-25 Tags: , , ,

FOTO: Lunchbox Photography

Die vorige keer toe Hoërskool Ben Vorster en Hoërskool Middelburg se paaie gekruis het, was dit die Buffels wat met 34-25 koning gekraai het. Nou, sewe jaar later, kry die Middies vir die eerste keer kans om die bordjies te verhang.

Kry al die nuus oor dié stryd op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Dié twee sal Saterdag om 14:40 op die Piet Swart Stadion, die Buffels se tuisveld, in Tzaneen, swaarde kruis.

In die 2018-stryd tussen die twee spanne, óók in Tzaneen, het die Buffels se sege vir hulle die baan geweg na die eindstryd in die Skild-afdeling van die destydse Virsekerbeker-reeks.

In die daaropvolgende jare was die twee spanne geskeduleer om nóg drie keer teen mekaar te speel, maar die Covid-19-pandemie het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Met 2022 se kragmeting wat ook uiteindelik gekanselleer is, beloof eerskomende Saterdag se herontmoeting 70 minute van ‘n aksiebelaaide rugby.

Old School

Die Middies, tans een van die top spanne in Mpumalanga, sal slaggereed wees om hul stempel kort voor die aanvang van hul aanslag in die SDC Noordvaal se Plaat-afdeling af te druk. Die Middelburgers beskik oor ‘n gebalanseerde span, met brute krag in die pak en flair in die agterhoede, waar Cravenweek-losskakel, Matthew Abbey, die toutjies trek.

Voorlangs gaan die Buffels nietemin hul hande volhê met die besoekers se haker, Roux Grobler, wat uitstekend op dreef is en reeds vanjaar met ‘n aantal dryfmaaldrieë spog. Sy tweestryd met die Vossies se Ruben Pohl, wat nog in Graad 11 is maar die veld aan die brand speel in die Buffels se nr. 2-trui, kan een van die hoogtepunte van die kragmeting oplewer.

Die tuisspan beskik voorts oor ‘n uiters bekwame binnesenter in Gehan Hendriks en, indien die Buffels se pak die nodige momentum kan bewerkstellig, sal Hendriks ‘n beduidende rol speel met sy venynige aanvalslyne.

Die spanne: 

Ben Vorster t. Hoërskool Middelburg om 14:40 in Tzaneen

Ben Vorster: 15 Phetogo Shubane, 14 Miguel Makhubupetsi, 13 Chifu Banda, 12 Gihan Hendriks, 11 Lethabo Sejake, 10 Shelton-Ray Primo, 9 Stiaan du Rand, 8 Tumi Ramohlale, 7 Joshua van der Mescht, 6 Kobus de Beer, 5 Lourens Harmse, 4 Lesedi Motseki, 3 Randy Magabe, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.

Hoërskool Middelburg: 15 Buhle Mphahlaza, 14 Lesego Rakale, 13 Jaco Truter, 12 Lungelo Maseko, 11 Siboniso Mahlangu, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Henco Jansen van Rensburg, 7 Wihan Jordaan, 6 CW Hanekom, 5 Zanempilo Mahlangu, 4 Jabu Mathebula, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Carlo Joubert.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.