SuperSport Schools Plus

Hansies bring die Hansie-week trofee na 19 jaar weer terug huistoe


Tebogo Mapologelo, heelagter van Hans Strijdom, op pad na een van sy span se drie drieë in sy sege van 17-10 oor Frikkie Meyer in die eindstryd van die Mauritz Hansen-week op Mookgophong. FOTO: Marius Nortjé

Die Hoërskool Hans Strijdom se eersterugbyspan het met ‘n sege van 17-10 oor Frikkie Meyer van Thabazimbi seker gemaak dat hy vanjaar die kroon as kampioen van 31ste jaarlikse Mauritz Hansen-week in Mookgophong dra.

Dit was slegs die derde keer in die geskiedenis van die toernooi wat die gasheer as kampioen gekroon is. Hy was in 1996 en 2006 ook baas.

Kyk al die wedstryde op die hoofveld weer op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

Die Hansie-week het in 1993 ontstaan met Transvalia van Vanderbijlpark wat as die eerste kampioen gekroon is.

Die Hansies se hoofafrigter, Lebu van Heerden, se pa, Johan Frazer van Heerden, was 19 jaar gelede ook die span se hoofafrigter toe hulle die titel ingepalm het.

Hans Strijdom het vanjaar se toernooi as die enigste onoorwonne span afgeluit. Buiten die gasheer het Frikkie Meyer en HTS Middelburg se naasbestes ook die laaste dag met ‘n vlekkelose rekord betree.

HTS Middelburg het met 26-38 die knie in sy laaste kragmeting teen Hugenote van Springs se eerstes gebuig. Die span van Springs was die verdedigende kampioen na hy Hans Strijdom verlede jaar met 17-10 in die eindstryd geklop het.

Die Hansies en Frikkie Meyer sal mekaar weer op 10 Mei die stryd in die eerste ronde van die Limpopo Groep 2-liga aansê. Die span van Mookgophong het dus met dié sege in die eindstryd nie net die trofee ingepalm nie, maar ook ‘n belangrike slag voor die ligawedstryd geslaan.

Vir die Hansies was sy agtsteman, Kian du Plessis, weer uitstaande. Hy het in die vastelos asook in die lynstane goeie werk verrig. Die flank Janneman Benson en voorryman Alwyn Geyser het voorlangs ook goeie spel opgedis.

Du Plessis is na afloop van die toernooi ook as die Speler van die Week aangewys.

Die wenspan se heelagter, Tebogo Mapologelo, is na afloop van die eindstryd van die Speler van die Wedstryd vir sy vertoning aangewys. Hy het ‘n hele paar gevaarlike aanvalle vanuit die laaste vesting geloots asook ‘n mooi drie in die tweede helfte afgerond.

Die binnesenter, Henriko van der Colff, se lynskoppe het ook ‘n hele paar keer verligting vir sy span gebring. Die Hansies het aanvanklik gesukkel in die lynstane met veral Frikkie Meyer se flank en kaptein, Keanu Visser, wat hier vir hulle hoofbrekens besorg het.

Northcliff het met ‘n oortuigende sege van 34-7 oor die Hoërskool Kalahari van Kuruman gewys dat hy vanjaar nog ‘n hele paar spanne kan verras. Die span se losskakel, Matthew Hunt, kon met sy vertonings tydens die toernooi maklik ook met die toekenning as Speler van die Week weggestap het.

Die span van Johannesburg se slot Declan Diesel en flank Tyrin Crause het ook blink vertonings teen die Kalahari Leeus opgedis. Crause het twee van die wenspan se drieë afgerond.

Die span van Kuruman het nie op alle silinders gevuur na twee blink vertonings vroeër in die week. Sy agtsteman, SW van Heerden, verdien egter ‘n klop op die skouer.

Puntemakers: 

Hans Strijdom 17 (10) – Drieë: Henriko van der colff, Kian du Plessis, Tebogo Mapologelo. Doelskop: Van der Colff. Frikkie Meyer 10 (5) – Drieë: Prince Sekoboane, Anrich Fourie.

Northcliff 34 (15) – Drieë: Tyrin Crause (2), Connor Verster, Matthew Hunt, Jensen Geyer. Doelskoppe: Caleb Sokolich (2), Hunt. Strafdoel: Sokolich. Kalahari 7 (7) – Drie: SW van Heerden. Doelskop: André Venter.

Hoërskool Alberton 24 (17) – Drieë: Herman du Preez (2), Kayce Nel, Juan Gous. Doelskoppe: Joshua van Rensburg (2). Fochville 10 (5) – Drieë: Athi Nqele, Simphiwe Ntuli.

Hugenote (Springs) 38 (7) – Drieë: Luan Pretorius (2), Musa Matkangu (2), Thanyani Mokiri, Yovan Prinsloo. Doelskoppe: George Loucas (3), 10. HTS Middelburg II 26 (14) – Drieë: Fourie Joubert, Driaan Els, Bertu Harmse, Ruben Kruger. Doelskoppe: Fourie Joubert (3), Ethan Dreyer.

Jeugland 12 (7) – Drieë: Thando Ngomane, King Agbanzo. Doelskop: Agbanzo. Hoërskool Bellville 5 (5) – Drie: Ryno Higgs.

Hoërskool Brits 12 (12) – Drieë: Ludrich Ungerer, André Potgieter. Doelskop: JP Ferreira. Empangeni 7 (0) – Drie: Phila Ntuli. Doelskop: Okuhle Gumede.

Ander spanne: 

Eerstespanne: Piet Retief 7, Frans du Toit 7.

o.16: Marais Viljoen 30, Hugenote (Springs) 14 (eindstryd); Hoërskool Brits 17, Oosterlig 5; Hoërskool Bellville 13, Brandwag 8; Hans Strijdom 10, Wagpos 10; Empangeni 19, Trinityhouse 10; Merensky 12, Frikkie Meyer 0; Eldoraigne 36, HTS Middelburg 13; Hartbeespoort 24, Hoërskool Alberton 12.

o.15: Brandwag (Benoni) 32, Kalahari 22 (eindstryd); Hans Strijdom 10, Wagpos 10; Merensky 19, HTS Middelburg 7; Hoërskool Klerksdorp 25, Marais Viljoen 10; Wilgerivier 21, Warmbad 0; Heidelberg Volkskool 28, Eldoraigne 3; Hoërskool Alberton 9, Oosterlig 0; Northcliff 36, Frikkie Meyer 0; Potchefstroom Gimnasium XV 14, Trinityhouse 0; Potchefstroom Gimnasium 24, Hugenote (Springs) 22; Empangeni 47, Hans Strijdom XV 10.

o.14: Kalahari 21, Frikkie Meyer 5 (eindstryd); Marais Viljoen 29, Brandwag (Benoni) 10; Potchefstroom Gimnasium 52, HTS Middelburg 0; Hoërskool Klerksdorp 37, Northcliff 7; Hoërskool Alberton 33, Empangeni 14; Oosterlig 7, Hugenote (Springs) 5; Wagpos 15, Merensky 3; Eldoraigne 17, Hans Strijdom 14.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.