SuperSport Schools Plus

Jones en Rhode laat die Jade Brigade ratte verwissel in sege oor Trekkers

By Hannes Nienaber , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-29 Tags: , , , , ,

ETHAN VAN BILJON, losskakel van Stellenberg, glip hier deur ‘n gaping in sy span se FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Die Hoërskool Stellenberg se Ryan Jones (flank) en Ralton Rhode (linkervleuel) was met hul driekunste aan die spits van hul span se oortuigende oorwinning van 52-7 oor Voortrekker van Bethlehem op die tweede dag van die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi in die Markötter-stadion in Stellenbosch.

Die Jade Brigade het in die tweede helfte na ‘n hoër rat oorgeskakel na hy ‘n skamele voorsprong van 12-7 teen rustyd geniet het.

Die Trekkers het in die eerste helfte goed van hulself rekenskap gegee. Die span vanuit die Riemland kon egter nie in die tweede helfte met dieselfde pas voorthou nie.

Jones het sy driekuns in die tweede helfte gedruk. Twee van sy drieë was na twee kraglopies terwyl sy derde drie vanaf ‘n rolmaalbeweging gekom het.

Rhode het met sy dartellopies ‘n hele paar keer vir Voortrekker se verdediging onverhoeds betrap. Hy gaan nog ‘n hele paar spanne laat bontstaan op die verdediging.

Stellenberg se losskakel, Ethan van Biljon, het ook weer ‘n blink vertoning gelewer. Hy het die bal goed versprei asook ‘n paar keer die voordeellyn aangeval. Die span van Bellville se kaptein en loskopstut, Christian Janse van Rensburg, was ook op sy stukke.

Vir die Trekkers verdien sy binnesenter, Nolan du Plooy, asook die flank Jayden de Jesus ‘n klop op die skouer.

Helpmekaar het vir Nico Malan van Humansdorp met 33-17 in hul eerste wedstryd op vanjaar se toernooi geklop. Die Helpies sal tevrede met die sege wees, maar ook besef dat daar nog werk voorlê voor hulle op alle silinders kan vuur.

Die span van Johannesburg het teen lemoentyd met 21-8 voorgeloop. Sy senterpaar, Ethan Lourens en Ty Ax, het goed vertoon, maar het elk ook tien minute in die koelkas deurgebring.

Die wenspan se regtervleuel, Andreas Badenhorst, het die geleenthede wat na sy kant toe gekom het, met albei hande aangegryp. Hy het twee keer ‘n draai agter Nico Malan se doellyn gemaak.

Die span van Humansdorp se flank Chrisjan de Lange asook die heelagter, Leighton Lawrence, kan meer as tevrede met hul vertonings voel. Nico Malan boks sonder twyfel vanjaar weer bo hul gewigsklas.

Puntemakers:

Stellenberg 52 (12) – Drieë: Ryan Jones (3), Ralton Rhode (3), Luka Tonitz, Christian Janse van Rensburg. Doelskoppe: Ethan van Biljon (6). Voortrekker 7 (7) – Drie: Jayden de Jesus. Doelskop: Nolan du Plooy.

Helpmekaar 33 (21) – Drieë:: Andreas Badenhorst (2), Ethan Lourens, Gustav Grotius, Keanan Combrinck. Doelskoppe: Wian Storm (4). Nico Malan 17 (8) – Drieë: Piet Kleynhans, Chrisjan de Lange. Doelskoppe: Liam Bekker, Leighton Lawrence. Strafdoel: Bekker, Lawrence.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.