Wit Bulle se horings té stomp vir Durbies, Affie-tsoenami tref Drostdy


Vanjaar se NMI Toyota Noord/Suid-toernooi het op ‘n geskiedkundige wyse vir Hoërskool Durbanville afgeskop.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Durbies het vir die eerste keer ooit daarin geslaag om vir Hoërskool Monument uit te stof, met ‘n telling van 30-21.
Alhoewel dié twee spanne nog nét drie keer vantevore ontmoet het, waarvan die eerste keer in 1979 met Monument wat 20-10 gewen het, word die Monumentare oor die algemeen as gunstelinge beskou.
Dit het egter nou verander.
Die span van die Wes-Kaap het soos tiere verdedig, vernaam by die afbreekpunte, waar hy die span van Krugersdorp onder groot druk geplaas het. Die Durbie-losvoorspelers het dikwels omgekeerde besit bewerkstellig om die Monumentare se momentum te stuit, terwyl dit terselftertyd ook geleenthede geskep het vir losskakel, Kyle Albertus, en die Man van die Wedstryd, Valrhinio Olckers, op heelagter.
Albertus het die toutjies soos ‘n gesoute generaal getrek, terwyl Olckers gereeld aansluiting by die agterlyn gevind het om die Krugersdorpers se verdediging te beproef.
Soos wat die geval teen Grey-kollege was, was die Wit Bulle se losskakel, Anthony Viljoen, weer sý span se groot uitblinker, en sy aanvalsvernuf en uitstekende visie beloof om nog vele teenstanders op hul tone te hou.
Afrikaanse Hoër Seunskool het sy indrukwekkende segetog in vanjaar se jong seisoen voortgesit met ‘n slagting van HTS Drostdy. Die Rooi-, Geel-, Groen-golf het die span van die Wes-Kaap met ‘n tsoenami-telling van 61-17 getref.
Alhoewel die Pretorianers met 44 punte die oorhand geniet het, het die Donkies nietemin vir drie uiters aanskoulike drieë, waarvan twee deur heelagter, Pirlo Baron, vanuit hul eie halfgebied gesorg.
Die taktiese skopwerk van Affies se Ruben Groenewald was egter weer dodelik. Groenewald is straks die beste in die land in hierdie afdeling, wat gevaarligte vir toekomstige teenstanders laat flikker. Tesame met sy akkurate stelskopwerk en netjiese balverspreiding, het dit aan hom die Man van die Wedstryd-toekenning besorg. Die Affies-pak lyk ook soos ‘n ander gedierte, met die agttal wat nog deurentyd vanjaar sy stem dik gemaak het.
Puntemakers:
Hoërskool Durbanville 30 (24) – Drieë: Michael Shaw (2), Valrhinio Olckers, Tylo Hess. Doelskoppe: Kyle Albertus (2). Strafdoele: Albertus (2). Monument 21 (14) – Drieë: Tasliem Guyam, Ruan Genis, Ewan van der Walt. Doelskoppe: Anthony Viljoen (3).
Afrikaanse Hoër Seunskool 61 (40) – Drieë: Rikus Strydom (2), Fourie Roberts, Stephan McDonald, Hugo Snyman, Bauke Swart, Lamond Baaitjies, Elwin Jansen van Rensburg, Divan Fourie. Doelskoppe: Ruben Groenewald (8). HTS Drostdy 17 (12) – Drieë: Pirlo Baron (2), Caden Juries. Doelskop: Jano van Deventer.