SuperSport Schools Plus

Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle

By Hannes Nienaber , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-22 Tags: , , , , , , , ,

SHERWIN BUYS (met bal), skrumskakel van Grey-kollege sit hier voet in die hoek op die aanval. FOTO: Marius Nortjé

Grey-kollege se eerstespan het soos ‘n wafferse matador in ‘n stiergeveg die Hoërskool Monument se Wit Bulle tot ‘n slagting van 47-8 gestier.

Die kragmeting het voor ‘n volgepakte Ras van Rooyen-veld in Krugersdorp afgespeel. Dit was ook deel van die King Price Derby Series.

Die telling kon veel groter in Grey se guns gewees het indien sy stelskoppers nie hul skopskoene in die Rosestad vergeet het nie.

Die span se stelskoppers het agt doelskoppe verbrou wat nog ‘n moontlike 16 punte tot die span se totaal kon byvoeg.

Die Wit Bulle het egter nie net vir die volle 70 minute agter die Grey-stiervegter se rooi lap aangestorm nie.

Die tuisspan het meeste van die balbesit asook die gebiedsvoordeel in die eerste helfte geniet. Hy kon egter nie genoeg fases aanmekaar slaan om Grey se verdediging te genoegsaam te beproef nie.

Die besoekers van die Rosestad het teen die omdraaislag ‘n voorsprong van 27-3 geniet. Sy skrumskakel, Sherwin Buys, het twee van sy span se vyf drieë in die eerste helfte na skerp breekslae afgerond.

Grey se heelagter, Lamla Mgedezi, het ook elke keer wat hy in besit geplaas is gevaarlik op die aanval gelyk.

Grey se enjinkamer het vanjaar twee vonkproppe op slot in Alexi Tyropolis en Claude Steyn wat weet hoe om die vonk voorlangs te verskaf. Die twee het met talle duikslae gesorg dat Monnas gesukkel het om voorlangs oor die voordeellyn te kom.

Boonop moet Grey se Cravenweek-slot, AJ Meyer, ook nog sy terugkeer na die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi vir die span van Bloemfontein maak.

Grey se senterpaar, Toriq Schambreel en Ethan Adams, was soos verwag ook vuurwarm. Hulle het deurgans ondernemingsgees aan die dag gelê om Monnas se verdediging behoorlik te beproef.

Die Wit Bulle se losskakel, Jaydon Viljoen, het ook gewys dat hy vanjaar nog ‘n staatmaker vir sy span sal wees.

Monnas het se plaasvervanger Ryno van der Westhuizen het met speeltyd reeds verstreke ‘n troosdrie vir sy span gedruk. Die feit dat die Wit Bulle veggees tot teen die einde getoon het, is ‘n positief wat die span uit die kragmeting kan neem.

Sy volgende twee wedstryde is tydens die Noord/Suid-toernooi in Stellenbosch teen die Hoërskool Durbanville en Paarl Gimnasium.

Puntemakers:

Grey-kollege 47 (27) – Drieë: Sherwin Buys (2), Thristan Maree (2), Ethan Adams, Lamla Mgedezi, Toriq Schambreel, Xander Smit, Bernard Wessels. Doelskop: Jan-Hendrik van der Linden. Monument 8 (3) – Drie: Ryno van der Westhuizen. Strafdoel: Jaydon Viljoen.

Ander tellings: 

o.19A: Riebeeckrand 0, Grey Playboys 24; Bastion 7, Grey Packs 33; Krugersdorp High 15, Grey Pigs 57.

o.19B: Cherries 45, Kwaggas 5. o.19C: Peaches 48, Sables 7.

o.16A: Grey-kollege 31, Monument 16.

o.15A: Grey-kollege 30, Monument 12.

o.14A: Monument 27, Grey-kollege 25.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.