Monnas begin nuwe hoofstuk op wennoot in Welkom

Hoërskool Monument het ‘n nuwe era Saterdag op ‘n wennoot ingelui teen Welkom Gimnasium, in Welkom.
Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Monumentare het uiteindelik, in ‘n kragmeting wat aanvanklik gesukkel het om die gang te kom, met 38-27 oor die Gimmies van Welkom geseëvier.
Die ervare Vince Roberts het op agsteman die leiding geneem en was oudergewoonte uiters fisiek met bal in hand en ‘n moeilike kalant om grond toe te bring.
Robberts en losskakel, Jaydon Viljoen, wat spel netjies dikteer het agterlangs, het elkeen ‘n tweekuns aan drieë behaal. Viljoen het ook uitstekende diens van skrumskakel, Evan Bernhardi, ontvang.
Die Gimmies se vaskopstut, Julius Makhanda, het egter nie teruggedeins vir die Monumentare se fisieke aanslag nie. Hy het floreer in kontak, het die bal met mening gedra en oorgebars vir een van sy span se drie drieë.
Agterlangs het binnesenter, Dylan Titus, die Wit Bulle se middeveld dikwels getoets, terwyl linkervleuel, Vusi Ndayi, die verdediging laat bontstaan het met blitsige lopies langs die kantlyn af.
Hoërskool Secunda se agtsteman, Renier Combrick, het ‘n driekuns aan drieë behaal om sy span tot ‘n spogsege van 34-12 oor Merensky Landbou Akademie aan te vuur. Die span van Secunda se pak het op al agt silinders gevuur om die Plasies voorlangs te karnuffel, met nóg twee drieë wat deur voorspelers, Nathan Erasmus (loskopstut) en Rico Fourie (haker), gedruk is.
Die Plasies se losskakel en stelskopper JD Boshoff, het nietemin die tuisspan laat boet vir swak dissipline en was verantwoordelik vir al die Plasies se punte met vier strafdoele.
Dit is duidelik hoekom daar vanjaar opgewondenheid heers by Hoërskool Noordheuwel oor sy eerste rugbyspan. Die Blues het in hul eerste wedstryd, tuis op die “Heuwel”, ‘n taamlike stelling gemaak deur vir Hoërskool Rustenburg met 40-14 die loef af te steek.
Noordheuwel se agttal dwing groot gesag af, terwyl teenstanders ook hul keer agterlangs sal moet ken met Jeandré Uithaler wat ‘n spelskepper van formaat is.
Dié wedstryd se puntemakers volg kortliks.
Puntemakers:
Monument 38 (14) – Drieë: Jaydon Viljoen (2), Vince Roberts (2), Kamogelo Katisa, Juandré Ehlers. Doelskoppe: Viljoen (3), Caylum Schooney. Welkom Gimnasium 27 (7) – Drieë: Julius Makhanda, Dillon Titus, Vusi Nday, Strafdrie. Doelskop: Jaydewin Solomons. Strafdoel: Solomons.
Hoërskool Secunda 34 (17) – Drieë: Renier Combrink (3), Nathan Erasmus, Rico Fourie, Zander van der Merwe. Doelskoppe: Alonzo Blackenberg (2). Merensky 12 (12) – Strafdoele: JD Boshoff (4).
Ander Eerstespan-uitslae:
Krugersdorp – Noordheuwel 40, Hoërskool Rustenburg 14.
Ander spanne:
o.16: Monument 62, Welkom Gimnasium 0; Hoërskool Secunda 29, Merensky 21; Noordheuwel 20, Hoërskool Rustenburg 6.
o.15: Monument 48, Welkom Gimnasium 0; Hoërskool Secunda 34, Merensky 17; Noordheuwel 17, Hoërskool Rustenburg 7.
o.14: Monument 64, Welkom Gimnasium 5; Hoërskool Secunda 29, Merensky 0; Noordheuwel 12, Hoërskool Rustenburg 0.