SuperSport Schools Plus

Cooper-tweekuns doof Liggies uit, drie uit drie vir Montana

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-16 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Hoërskool Marais Viljoen op Facebook.

Juan Cooper het gesorg dat die vreugdevure hoog brand in Alberton na Hoërskool Marais Viljoen se oorwinning oor die besoekende Hoërskool Lichtenburg in die NWU Prestige-reeks.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die loskopstut het twee keer oor die doellyn gebars om vir die tuisspan ‘n sege, sy eerste in vanjaar se reeks, van 22-13 oor die Liggies vas te maak.

Dit was inderdaad voorlangs waar Marais Viljoen die grondslag vir die oorwinning gelê het. Die pak het sy vernietigende dryfmaalbeweging optimaal aangewend om ál drie drieë op dié wyse te behaal. Slot, Clayton Gagiano, het ook na nóg so ‘n dryfmaal, wat sowat 25 m gestrek het, die bal agter die Liggies se doellyn geplant.

Die Liggies, bekend vir hul fisiekheid, het egter nie ‘n duit teruggestaan vir die aanslag van voor nie, met vernaam agsteman en baljagter, KG Legodi, wat die lewe moeilik gemaak het vir die tuisspan by die afbreekpunte en ook beloon is met sy span se enigste drie.

Hoërskool Montana het sy derde agtereenvolgende oorwinning behaal deur vir Hoërskool Jeugland met 22-17 te troef, maar Jeugland het die sege beslis nie op ‘n skinkbord aangebied nie. Die verloorspan se regtervleuel, Beya Nyathi, het verál beïndruk en twee keer deurgenael vir ‘n welverdiende tweekuns aan drieë.

Die tuisspan was egter net té goed en het drie drieë teenoor die besoekers se twee aangeteken. Soos vroeër die week teen Hoërskool Marais Viljoen, het die Montana-pak regoor die veld gewoel, met vernaam loskopstut, Aiden van der Made, en slot, Tristan Stolz, wat elkeen ‘n drie gedruk het, prominent.

Hoërskool Wesvalia se Fafa Calitz en Wian du Preez het elkeen ‘n tweekuns behaal teen Hoërskool Wagpos in die Wessies se spogsege van 49-17. Voorlangs het haker, Fanie Linde, die fisieke aanslag gelei, wat die grondslag gelê het vir ‘n oortuigende oorwinning.

Die span van Klerksdorp was verál verlig dat hy vir die eerste keer in ‘n lang ruk in droë toestande kon speel.

Puntemakers:

Marais Viljoen 22 (10) – Drieë: Juan Cooper (2), Clayton Gagiano. Doelskoppe: Raynhardt Kruger (2). Strafdoel: Kruger. Hoërskool Lichtenburg 13 (13) – Drie: KG Legodi. Doelskop: Luan Snyman. Strafdoele: Snyman (2)

Montana 22 (17) – Drieë: Tristan Stoltz, Luan Barnard, Aiden van der Made. Doelskoppe: Hendrew Schoeman (2). Strafdoel: Schoeman. Jeugland 17 (10) – Drieë: Beya Nyathi (2). Doelskoppe: King Agbanzo (2). Strafdoel: Agbanzo.

Wesvalia 49 (22) – Drieë: Fafa Calitz (2), Wian du Preez (2), Fanie Linde, Stephan Pelser. Doelskoppe: Eduard Dreyer (3). Strafdoel: Dreyer. Wagpos 17 (3).

Ander spanne:

o.16: Marais Viljoen 26, Hoërskool Lichtenburg 18; Montana 57, Jeugland 19; Wesvalia 13, Wagpos 3.

o.15: Hoërskool Lichtenburg 26, Marais Viljoen 20; Montana 18, Jeugland 10; Wesvalia 15, Wagpos 0.

o.14: Marias Viljoen 7, Hoërskool Lichtenburg 5; Montana 10, Jeugland 10; Wesvalia 25, Wagpos 5.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.