SuperSport Schools Plus

Doktor besoek Leeus voor stryd teen Gouties, Diamonds slaggereed vir Witteberg

By Hannes Nienaber , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-14 Tags: , , , ,

FOTO: Marnus Prinsloo

Die verdedigende kampioen van die Wesgrow-reeks, die Hoërskool Diamantveld, skop Saterdag sy aanslag in vanjaar se reeks op sy tuisveld in Kimberley teen Witteberg van Bethlehem af.

Die tuisspan sal gewis vanjaar weer ‘n aanspraakmaker op die titel wees. Hy het verlede teen di Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria (24-45) gewys dat hy vanjaar weer oor genoeg grofgeskut beskik.

Die span se binnesenter, Jonathan Harding, sal met sy sterklopies in die middelveld vir Witteberg se twee senters, JC van Rhyn en Sedwin Gysman, goed besig hou.

Die skrumskakel, Ruben van der Linde, sal ook met valkoë deur die besoekers dopgehou word. Van der Linde se skerp breekslae het al ‘n hele paar geleenthede vir sy span geskep.

Witteberg het vanjaar teen die Hoërskool Rustenburg (25-27) vasgeval en boonop vir Wesvalia van Klerskdorp met 23-7 ore aangesit. So dit sal nie ‘n maklike kragmeting vir die Diamonds wees nie, maar die tuisveldvoordeel behoort die deurslaggewende faktor te wees.

Die Hoërskool Fichardtpark het besluit om die doktor nader te trek voor hulle eerste Wesgrow-kragmeting teen Goudveld-Hoërskool. En nee dis nie ‘n spelfout nie, ons praat hier van die gewilde Springbok-afrigter, Doktor Rassie Erasmus.

Erasmus en die voormalige Springbok-agtsteman en deesdae lid van die Bokke se bestuurspan, Duane Vermeulen, het die Fichie Leeus se truie voor die kragmeting aan hul oorhandig. Die Bok-afrigter se doktorgraad is ‘n eredoktorsgraad aan hom toegeken deur die Noordwes Universiteit.

Die Leeus se breiers het ook heelwat aan hul span verander sedert die hoofwedstryd van Fichardtpark se jaarlikse Standard Bank Sportdag twee weke gelede. Die skrumskakel, JM Rensburg, sal teen Gouties in die laaste vesting diens doen. Allerick Jonker sal teen die besoekers van Welkom die oond skoonmaak.

Fichies het op sy sportdag teen Diamantveld met 7-25 in die stof gebyt. Die Leeus sal vandag as die gunsteling op die veld draf, maar sal gewis nie oorgerus wees nie.

Gouties word vanjaar weer deur die voormalige Vrystaatse veelsydige agterspeler Eben von Gericke afgerig. Die span het in sy eerste wedstryd van die seisoen met 0-56 teen die Cherries sy rieme styfgeloop.

Die span van Welkom het wel in sy geledere ‘n hele paar spelers wat verlede jaar al goeie spel opgedis het. Die buitesenter, Ru-bran de Kock, sal sonder twyfel die Fichies se verdediging op die proef stel .

Die spanne is: 

Diamantveld t. Witteberg in Kimberley om 12:40: 

Diamantveld: 15 Clinton Brits, 14 John-Leighton Fortuin, 13 Jaco Beukes, 12 Jonathan Harding (kaptein), 11 Driaan Jacobs, 10 Ezlin Swartz, 9 Ruben van der Linde, 8 Enrique Boshoff, 7 Jayden de Klerk, 6 Louis Fourie, 5 Zuan Rautenbach, 4 MG van Greuning, 3 Dian Ellis, 2 Jaydrian Jacobs, 1 Bernard Daniels.

Witteberg: 15 Qlin Booyse, 14 Donay Williams, 13 JC van Rhyn, 12 Sedwin Gysman, 11 Kenyon Morat, 10 Tshepo Motloung, 9 Christiaan de Boer, 8 Daniel Mentjies, 7 JP Cronjé, 6 Divan Marais, 5 Jacques Jordaan, 4 Pieter Nel (kaptein), 3 Mila Oersen, 2 Rico van Vuuren, 1 Cobus Labuschagne.

Fichardtpark t. Goudveld-Hoërskool in Bloemfontein om 13:30: 

Fichardtpark: 15 JM Rensburg, 14 Unathi Ntuli, 13 Divan Maartens, 12 Junior Titoti, 11 Za Mathese, 10 Pule Motsilili, 9 Allerick Jonker, 8 Janco Dorfling, 7 Buko Mlali, 6 Josh Nelson, 5 Dian Visagie, 4 Jonathen Duarte, 3 Marko van der Westhuizen, 2 Marno Smit, 1 Justin van Eyssen.

Goudveld-Hoërskool: 15 Kamohelo Moloke, 14 Tshepo Manenye, 13 Ru-bran de Kock, 12 Ethan Swartz, 11 KB Sonopo, 10 Nale Kwena, 9 Motsisi Mototo, 8 Malan Marx, 7 Tiaan Harmse, 6 Thabiso Phafudi, 5 Joshua van Heerden, 4 Anrich van der Merwe, 3 Thomas Bothma, 2 Diaan Jonker, 1 Toka Khooe.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.