SuperSport Schools Plus

Montana sit segetog voort, Gimmies laat Wessies sweet

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-13 Tags: , , , , ,

Hendrew Schoeman, binnesenter en kaptein van Hoërskool Montana, lê aan pale toe teen Hoërskool Lichtenburg. FOTO: Nicolette Fourie.

Hoërskool Montana het Woensdagaand sy segetog op tuisbodem in Pretoria voortgesit.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die Monties, wat óók as die Wit Bulle bekend staan, het in hul tweede wedstryd in vyf dae met ‘n telling van 35-24 oor Hoërskool Marais Viljoen koning gekraai. Hulle het Saterdag ‘n verbete terugvegpoging geloods om Hoërskool Lichtenburg, in Lichtenburg, met een punt te troef en hul onoorwonne status in die NWU Prestige-reeks te behou.

Die Monties was blitsig uit die blokke teen Marais Viljoen, met losskakel, Rubel Bester, wat die toutjies vanuit die staanspoor soos ‘n generaal getrek het. Dit het die gevaarlike binnesenter en kaptein, Hendrew Schoeman, wat verlede jaar reeds vir die Blou Bulle se o.17-span uitgedraf het, op die voorvoet help plaas en die agterlyn se bereidwilligheid om die bal lug te gee, het dikwels vrugte afgewerp.

Die grondslag vir die sege is egter voor gelê, met die Monties-stutte, Aiden van der Made en Xandré le Roux, wat die besoekers laat brul het in die skrums, terwyl die res van die pak die tempo deur die loop van die wedstryd opgejaag het om die oorhand te kry.

Dit is nietemin steeds vroeg in die seisoen, en Marais Viljoen het met tye gewys wat hulle met bal in hand kan doen. Hulle het op stuk van sake ‘n agterstand van 16 punte in die tweede skof na slegs twee punte laat krimp om die Monties te laat naels kou.

Agsteman, Rio Tshimbalanga, het vir die volle 70 minute alles uitgehaal om die span van Alberton aan die wenkant te probeer kry. Sy groot liggaamsbou en fisieke teenwoordigheid het hom haas onkeerbaar gemaak en hy het by een só ‘n geleentheid deur die verdediging gebars vir een van sy span se vier drieë.

Potchefstroom Gimnasium het die naaswenners van verlede jaar, Hoërskool Wesvalia, aanvanklik laat sweet vir ‘n uiteindelike oorwinning met 28-12. Wessies se haker, Fanie Linde, het twee keer gaan druk in sy span se felle aanslag gedurende die tweede helfte, terwyl losskakel, Eduard Dreyer, se stewel weer die telbord aan die rol gehou het met drie strafdoele en twee doelskoppe.

Gimmies se twee stutte, Jaundré Barends en Matt Redelinghuys, het hul stempel deeglik afgedruk in die skrums, wat vir die Gimmies se skrumdokter, Pietman van Niekerk, breed sou laat glimlag het.

Puntemakers:

Montana 35 (26) – Drieë: Juan Alexander, Luan Barnard, Aiden Vorster, Marq de Villiers, Keagan van der Merwe. Doelskoppe: Hendrew Schoeman (5). Marais Viljoen 24 (10) – Drieë: Juan Copper, Ondisa Njili, Jemaine Crouse, Rio Tshimbalanga. Doelskoppe: Raynhardt Kruger (2).

Wesvalia 28 (6) – Drieë: Fanie Linde (2), Quewen Fourie. Doelskoppe: Eduard Dreyer (2). Strafdoele: Dreyer (3). Potchefstroom Gimnasium 12 (7) – Drieë: Elrich Bosch, Reuel Potgieter. Doelskop: Zandré Da Silva.

Ander spanne:

o.16: Montana 28, Marais Viljoen 16; Wesvalia 12, Potchefstroom Gimnasium 3.

o.15: Montana 15, Marais Viljoen 10; Wesvalia 51, Potchefstroom Gimnasium 0.

o.14: Montana 12, Marais Viljoen 10; Wesvalia 22, Potchefstroom Gimnasium 3.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.