SuperSport Schools Plus

Jansies, Plasies behaal groot seges, Rusties naelskraaps baas in Bethlehem

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-09 Tags: , , , , , ,

FOTO: Marius Nortjé.

Die ondersteuners van Hoërskool Rustenburg en Hoërskool Witteberg se naels sou teen die einde van dié 70 minute stomp gekou gewees het.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Dié twee spanne het vir ‘n wipplankstryd soos min gesorg, met die Rusties wat einde ten laaste met 27-25 die knoop kon deurhak.

Dit was ‘n ongelooflik fisieke stryd wat deurgaans vir aardskuddende duikslae gesorg het, met Rustenburg se loskopstut, Carel Schoonraad, voor in die koor. Buiten sy vernietigende verdediging, het Schoonraad ook wat skrumwerk betref sy stempel deeglik afgedruk.

Binnesenter, Hendré Robinson, was ewe rotsvas op die verdediging en ook ‘n doring op die aanval, met kenmerkende barslopies waaraan ondersteuners verlede jaar reeds gewoond geraak het. Sy tweestryd met Sedwin Gysman, ‘n skerp angel vir Witteberg in die middeveld, het die skare in vervoering gehad. Gysman en JC van Rhyn, op vleuel, vul mekaar uitstekend aan en sal fyn dopgehou moet word vanjaar.

Hoërskool Dr EG Jansen se blitsige regtervleuel, Jayden du Preez, het twee keer oorgeduik in die Jansies se sege van 45-20 oor Ligbron Akademie.

Die span van Boksburg het soos ‘n Jansie-span van ouds die bal pragtig lug gegee om hul gevaarmanne op die punte los te laat, met Du Preez se vleuelmaat, Jordan van der Westhuizen, wat ook gaan druk het. Losskakel, Deshean Pietersen, het spel netjies dikteer en 15 punte aangeteken met ‘n drie en vyf doelskoppe.

Eben Diegenaar, losskakel van Ermelo, het self goeie visie en besluitneming aan die dag gelê, terwyl haker, Franco Groenewald, gewoel het voorlangs en met ‘n welverdiende drie beloon is.

Merensky Landbou Akademie se senterpaar het elk ‘n driekuns ingeryg vir hul span om op die Plaas met 58-7 oor Hoërskool Nylstroom koning te kraai. Dit was duidelik dat binnesenter en kaptein, Maritz Meintjies, en Jens Bezuidenhout, aan sy buitekant, albei reeds ‘n jaar se ervaring op eerstespan-vlak het.

Puntemakers:

Hoërskool Rustenburg 27 (15) – Drieë: Xavier Steenkamp (2), Raqiel Jaftha, Lorenzo Snyers. Doelskoppe: Waide Daivey, Snyers. Witteberg 25 (15) – Drieë: Qlin Booyse, Rico van Vuuren, JC van Rhyn. Doelskoppe: Tshepo Motloung (2). Strafdoele: Motloung (2).

EG Jansen 45 (26) – Drieë: Jayden du Preez (2), Jordan van der Westhuizen, Deshean Pietersen, Marco Ventura. Doelskoppe: Pietersen (5). Ligbron Akademie 20 (8) – Drieë: Franco Groenewald, Nie geïndentifiseer. Doelskop: Eben Diegenaar. Strafdoele: Diegenaar (2).

Merensky 58 (24) – Drieë: Maritz Meintjies (3), Jens Bezuidenhout (3), Blessing Mathebula, Makhetwa Musundwa, Armand Eloff. Doelskoppe: JD Boshoff (7). Hoërskool Nylstroom 7 (7).

Ander spanne: 

o.16: Hoërskool Rustenburg 12, Witteberg 5; EG Jansen 40, Ligbron Akademie 5; Merensky 59, Nylstroom 3.

o.15: Hoërskool Rustenburg 31, Witteberg 3; EG Jansen 17, Ligbron Akademie 7; Merensky 38, Nylstroom 0.

o.14: Hoërskool Rustenburg 38, Witteberg 7; EG Jansen 29, Ligbron Akademie 7; Merensky 58, Nylstroom 7.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.