Farmer laat die Woeries vooruit boer, Kleynhans se skopskoen doen praatwerk vir Erries
Na die eerste twee rondes van die nuwe NWU Interskole-reeks blyk dit dat die Hoërskool Ermelo en Hoërskool Centurion die twee spanne is om te klop.
Centurion het sy aanslag in die reeks afgeskop deur Overkruin met 38-22 te troef. Die twee spanne sal mekaar later vanjaar weer in Afdeling 2 van die Blou Bulle-liga pak. Die Woeries kan verwag dat Overkruin dan met ‘n groter aanslag vorendag sal kom.
Centurion se losskakel, Donell Farmer, het sy skopskoene aangehad en 18 punte daarmee aangeteken. Voorlangs het Robbie Herholdt (haker), Malan le Roux (flank) en Darius Durie (agtsteman) die grondslag help lê vir die sege.
Le Roux het twee keer oor Overkruin se doellyn gebars.
Die Woeries se laaste groepwedstryd op 20 Maart teen Dinamika sal heel moontlik die wenner die die groep bepaal.
Dinamika het sy eerste kragmeting in die reeks teen Dr. Malan van Meyerton met 36-22 gewen. Die span van Meyerton het in die eerste ronde in die reën vir Overkruin met 8-5 getroef.
Dokkies se heelagter, Luka Pretorius, het vanuit die laaste vesting vir Dinamika ‘n paar keer laat bontstaan.
Die Hoërskool Ermelo het in Boksburg teen Oosterlig met 54-22 koning gekraai. Die tuisspan het Ermelo in die eerste helfte nog in toom gehou met die besoekers wat teen die omdraaislag ‘n voorsprong van 21-10 geniet het.
Die Erries se losskakel, Janco Kleynhans, het 19 van sy span se punte aangeteken. Hy het een van sy span se sewe drieë gedruk asook al sewe verdoel. Die agtsteman, Francois Homan, was gevaarlik met die bal in die hand en het ‘n driekuns aan drieë behaal.
Lydenburg het op sy tuisveld in ‘n strawwe tweestryd met 13-11 as oorwinnaars uit die stryd teen Hans Moore van Benoni getree. Die wenspan se Seabi Ramodike (haker) en Jaidem Venter (slot) het meer as hul kant gebring.
Hans Moore se senter, Troy Strydom, het al sy span se punte aangeteken. Strydom kon in die doodsnikke van die kragmeting met ‘n strafdoel ‘n sege vir sy span beklink, maar het ongelukkig die stelskop gemis. Hy is vir sy blink vertoning as Speler van die Wedstryd aangewys.
Puntemakers:
Ermelo 54 (21) – Drieë: Francois Homan (3), Thabo Mokwena (2), Nicolas Steyn, Janco Kleynhans. Doelskoppe: Kleynhans (7). Oosterlig 22 (10) – Drieë: Juandré Naude, Brandon Desmore, Zander Crous. Doelskoppe: Jayden Middleton, Daniël Calvin. Strafdoel: Middleton.
Lydenburg 13 (5) – Drie: Teejay van der Walt, Joshua Weber. Strafdoel: Alan Vos. Hans Moore 11 (6) – Drie: Troy Strydom. Strafdoele: Strydom (2).
Centurion 38 – Drieë: Malan le Roux (2), Gerldo Danster, Coenraad du Toit. Doelskoppe: Donell Farmer (3). Strafdoele: Farmer (4). Overkruin 22 – Drieë: Waylon Oncke (2), Lequine Fredericks, Damian Sealie. Doelskoppe: Eagan Klein.
Dr. Malan 22 – Drieë: Luka Pretorius (2), Amborgio van der Westhuizen. Doelskoppe: Dewald Erasmus, Pretorius. Strafdoel: Erasmus. Dinamika 36 – Geen puntemakers ontvang nie.
Ander spanne:
o.16: Ermelo 29, Oosterlig 21; Centurion 66, Overkruin 0; Dinamika 40, Dr. Malan 7; Lydenburg 43, Hans Moore 10.
o.15: Ermelo 17, Oosterlig 5; Centurion 41, Overkruin 0; Dinamika 21, Dr. Malan 20; Lydenburg 10, Hans Moore 5.
o.14: Ermelo 29, Oosterlig 17; Centurion 7, Overkruin 5; Dinamika 22, Dr. Malan 19; Lydenburg 19, Hans Moore 10.
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30